Dit lyk altyd baie indrukwekkend as jy ’n gebakte heel vis voorsit. As jy hierdie resep van mev. Mathilda Pansegrouw van Bellville volg, is daar min werk aan so ’n vis verbonde. Die grootte van die vis bepaal die getal porsies. Aan ’n middelslagkabeljou kan ses mense met smaak weglê. Sit dit voor met rys of aartappels.
Lewer 6 porsies
Bestanddele:
- 1 heel middelslagvis, met die kop aan
- sout en peper na smaak
- 1 middelslagui, fyngekap
- 1 tamatie, fyngekap
- 125 ml witwyn
- 125 ml sonneblomolie
- gemengde kruie na smaak
Metode:
- Voorverhit die oond tot 180 °C (350 °F),
- Krap die skubbe van die vis af. Knip die maag met ʼn skêr oop, van die kop tot by die opening.
- Verwyder die ingewande en bloed en skraap alle swart vel af.
- Was die vis onder koue lopende water en droog dit met kombuispapier af.
- Strooi sout en peper in die maagholte en vryf dit ook buite-om die vis in.
- Plaas ’n stuk aluminiumfoelie wat groot genoeg is om die vis in toe te vou op ’n groot rolkoekpan. Plaas die vis op die foelie.
- Meng die ui, tamatie, wyn en olie. Geur die mengsel met sout, peper en gemengde kruie. Vul die visholte met die mengsel en skep wat oorbly oor die vis.
- Vou die lang kante van die foelie oor om ’n los pakkie te maak en verseël die kort kante. Bak die vis 60 tot 90 minute lank tot gaar.
- Vou die foelie oop en laat die vis onder die boonste element van die oond effens verbruin. Sit dit warm voor.
Bron: Huisgenoot Wenresepte 2
Uitgewer: Human en Rousseau
Lyk lekker