Kyk net hoe heerlik lyk dié resep! Jy gaan maar ekstra moet maak – daar gaan vuisgeslaan word oor die boudjies …
Lewer 4-6 porsies
Bestanddele:
- 125 ml suurlemoensap
- 45 ml heuning
- 1 knoffelhuisie, gekneus
- varsgemaalde swartpeper
- 1,5 kg hoenderstukke van jou keuse
- 60 ml ongegeurde jogurt
- 2,5 ml sout
- 250 ml droë broodkrummels
- 250 ml fyngerolde graanvlokkies
- 25 ml gerasperde Parmesaankaas
- selderyblare en suurlemoenwiggies, vir garnering
Metode:
- Meng die suurlemoensap, heuning, knoffel en swartpeper in ʼn glasbak. Voeg die hoenderstukke by en roer dit goed deur sodat dit deeglik met die marinade bedek word. Bedek die bak en verkoel dit minstens 2 uur of oornag.
- Voorverhit die oond tot 180 °C.
- Haal die hoenderstukke uit die marinade en dreineer dit goed. Druk dit met kombuispapier droog. Verf die stukke liggies met jogurt wat met sout gegeur is.
- Meng die broodkrummels, graanvlokkies en kaas in ʼn bak en bedek die hoenderstukke met die mengsel.
- Plaas dit op ʼn gesmeerde bakplaat en bak 45 minute of tot sag. Draai ná 20 minute om. Sit met ʼn groenslaai voor.
Bron: Lekker & Vinnig (Oorspronklik gepubliseer in Soet en Sout deur Margie van Tonder)
Uitgewer: Lapa
Lekkerrr….