Soorte resepte:

Resep: Gesoute snoekpoffertjies

Gesoute snoekpoffertjies (Foto: Lapa-uitgewers)

Lewer 12-16 poffertjies

Pataniscas, soos wat hulle in Portugal bekend is, se oorsprong lê glo in die Algarve. Daar is verskeie variasies op hierdie gereg en dit kan na keuse verander word, byvoorbeeld deur kabeljou pleks van gesoute snoek te gebruik.

Bestanddele

  • 250 g gesoute snoek
  • 50 ml melk
  • vars uitgedrukte suurlemoensap
  • 45 ml koekmeel
  • 10 ml water
  • 1 eier
  • 15 ml olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 2 salotte, fyngekap
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • 15 ml pietersielie, fyngekap

Metode

  1. Verwyder die vel en grate van die vis en vlok die vleis in ’n mengbak.
  2. Giet die melk en ’n skeutjie suurlemoensap oor.
  3. Laat die gevlokte vis ongeveer 1 uur in die mengsel lê voordat jy dit dreineer.
  4. Berei die beslag voor deur die meel, water, eier en olyfolie te meng en dit met ’n knippie sout en peper te geur. Voeg ook die salotte, knoffel en pietersielie by die bes lag en meng goed om al die geure bymekaar te bring.
  5. Gebruik jou hande of 2 nagereglepels en vorm klein, ronde visballetjies wat jy eers in meel en dan in die beslag doop.
  6. Diepbraai dit in warm olie tot goudbruin en heerlik bros.
  7. Dreineer op papierhanddoek en bedien onmiddellik.

 

Wenk: Dis belangrik om die soutvis af te spoel en te laat week voor gebruik. Om dit te doen, moet jy eers die soutvis onder koue, lopende water afspoel om alle tekens van sout op die oppervlak te verwyder. Plaas dan die vis in ’n ruim bak en bedek met koue water. Laat die vis 12-24 uur lank week, afhangende van hoe dik dit is. Die water moet minstens 4-5 keer verander word. Voordat jy die gereg berei, proe eers ’n paar stukkies vis om seker te maak dis nie te sout nie.

 

Bron: Die Suid‑Afrikaanse vis- en seekoskookboek deur Susina Jooste en Henk Stander

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

KaterinaKat ·

Dit lyk goed, my gesin is baie lief vir seekos. Ek sal dit op die naweek maak, dankie vir die resep:-)!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.