Lewer 12-16 poffertjies
Pataniscas, soos wat hulle in Portugal bekend is, se oorsprong lê glo in die Algarve. Daar is verskeie variasies op hierdie gereg en dit kan na keuse verander word, byvoorbeeld deur kabeljou pleks van gesoute snoek te gebruik.
Bestanddele
- 250 g gesoute snoek
- 50 ml melk
- vars uitgedrukte suurlemoensap
- 45 ml koekmeel
- 10 ml water
- 1 eier
- 15 ml olyfolie
- sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
- 2 salotte, fyngekap
- 1 knoffelhuisie, fyngedruk
- 15 ml pietersielie, fyngekap
Metode
- Verwyder die vel en grate van die vis en vlok die vleis in ’n mengbak.
- Giet die melk en ’n skeutjie suurlemoensap oor.
- Laat die gevlokte vis ongeveer 1 uur in die mengsel lê voordat jy dit dreineer.
- Berei die beslag voor deur die meel, water, eier en olyfolie te meng en dit met ’n knippie sout en peper te geur. Voeg ook die salotte, knoffel en pietersielie by die bes lag en meng goed om al die geure bymekaar te bring.
- Gebruik jou hande of 2 nagereglepels en vorm klein, ronde visballetjies wat jy eers in meel en dan in die beslag doop.
- Diepbraai dit in warm olie tot goudbruin en heerlik bros.
- Dreineer op papierhanddoek en bedien onmiddellik.
Wenk: Dis belangrik om die soutvis af te spoel en te laat week voor gebruik. Om dit te doen, moet jy eers die soutvis onder koue, lopende water afspoel om alle tekens van sout op die oppervlak te verwyder. Plaas dan die vis in ’n ruim bak en bedek met koue water. Laat die vis 12-24 uur lank week, afhangende van hoe dik dit is. Die water moet minstens 4-5 keer verander word. Voordat jy die gereg berei, proe eers ’n paar stukkies vis om seker te maak dis nie te sout nie.
Bron: Die Suid‑Afrikaanse vis- en seekoskookboek deur Susina Jooste en Henk Stander
Uitgewer: Lapa
Dit lyk goed, my gesin is baie lief vir seekos. Ek sal dit op die naweek maak, dankie vir die resep:-)!