Soorte resepte:

Resep: Gou-gou worskos

Gou-gou worskos (Foto: Lapa-uitgewers)

Boerewors is dalk lekker op die braai, maar dié vleis trek ʼn ander baadjie aan met hierdie gereg.

Lewer 6 porsies

Bestanddele

  • bietjie olie
  • 2 uie, gekap
  • 1 rooi soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
  • 10 ml kerriepoeier
  • 2,5 ml borrie
  • 500 ml kookwater
  • 30 ml blatjang
  • 10 ml appelkooskonfyt
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 5 ml gekapte vars pietersielie
  • 700 g rou boerewors, in groot stukke gesny
  • 410 g (1 blik) perskeskywe, gedreineer
  • 375 ml rou witrys

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Verhit die olie en soteer die uie tot sag en deurskynend. Voeg die soetrissie by en soteer nog ’n bietjie. Roer die kerriepoeier en borrie by.
  3. Voeg die kookwater, blatjang, appelkooskonfyt, sout, peper en pietersielie saam en roer goed deur.
  4. Plaas die wors in ’n gesmeerde oondskottel met ’n deksel.
  5. Skep die uiemengsel bo-op die wors en versprei eweredig.
  6. Rangskik die perskeskywe bo-op en giet die kookwatermengsel bo-oor.
  7. Strooi die rys oor, sit die deksel op en bak vir 50 minute of tot die rys gaar is.
  8. Sit warm met slaai en broodrolletjies voor.

VARIASIE

Die perskes kan met pynappelstukkies vervang word.

Bron: Vinnig en Maklik: Resepte uit Vrouekeur 2 deur Marlo Carstens

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.