Soorte resepte:

Resep: Heel braaikabeljou in ’n uiekors

Heel braaikabeljou in ’n uiekors (Foto: Lapa-uitgewers)

Hoewel die vis direk op warm kole gebraai word, dien die uiekombersie as ’n buffer om die vog binne te hou en verseker dat die vis nie net braai nie, maar ook stoom. Die vel aan die binnekant dien ook as ’n waterdigte skerm wat keer dat die vog verdamp. Die eindresultaat is ’n baie sappige vis en ’n klomp gelukkige gaste wat weglê aan die gereg.

Bestanddele

  • 5 ml paprika
  • 10 ml koljandersaad, fyngestamp
  • 3 ml gedroogde brandrissie
  • 2 ml borrie
  • 50 ml sojasous
  • 150 ml olyfolie
  • 2 groot wit uie, fyngekap
  • 1 kabeljou OF soortgelyke braaivis, heel (ongeveer 1 kg)
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • growwesout en swartpeper na smaak

Metode

  1. Kry ’n lekker braaivleisvuurtjie aan die gang.
  2. Maal al die speserye met ’n vysel in ’n stamper om ’n speserymengsel bekend as masala te maak.
  3. Meng die sojasous, olyfolie en masala in ’n mengbak om ’n homogene emulsie te vorm. Sit die helfte van die mengsel eenkant voordat jy die ui en knoffel by die ander helfte meng.
  4. Sorg dat die rooster op die regte vlak bo die kole is – ongeveer die hoogte van twee bakstene op mekaar. Die kole moet nogal warm wees. Vou die gevlekte kabeljou met die binnekant na buite sodat die twee velkante binnetoe wys en die vleisgedeeltes buite sit. Jy kan ook jou vishandelaar vra om die vis vir jou te vlek.
  5. Plaas die vis op die rooster net soos dit daar is. Plaas die rooster op die kole, maar moenie die twee helftes aan mekaar vasklamp nie. Smeer die bokant goed met die helfte van die uiemengsel.
  6. Braai 1 minuut lank en draai dit dan stadig en versigtig om sodat die uiekors nie heeltemal afval nie. As daar hier en daar afvalstukkies op die kole beland, sal dit net ’n lekker rokerige geur aan die vis verleen.
  7. Terwyl die kant met die uiemengsel braai, moet jy die bokant van die rooster oplig om seker te maak die vis sit nie daaraan vas nie. Smeer die ander helfte van die uiemengsel aan die kant wat nou bo lê.
  8. Draai die rooster om en braai nog 2 minute lank aan elke kant.
  9. Bedruip die vis gedurig met die sousmengsel wat jy vroeër eenkant gesit het. Draai die rooster om en braai nog 2 minute lank. Herhaal die proses, afhangende van hoe dik die vis is.
  10. Maal growwesout en swartpeper oor die vis net voor jy dit die laaste keer op die rooster plaas.
  11. Haal dit versigtig van die rooster af deur die rooster oop te maak, ’n opdienskottel oor die vis te sit en dan die rooster vinnig om te keer.

Opdienvoorstel: Geniet saam met ’n vars, groen tuinslaai, gegeurde rys of roerbraaigroente.

Bron: Die Suid-Afrikaanse vis-en seekos kookboek deur Susina Jooste en Henk Stander

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Afrikaner ·

Nee hoor! En daai brandgoed ens ens ….

Kom ons doen dit eerder op die Weskus manier.

Skerp Spioen ·

Klink na ‘n blink plan Afrikaner. Deel asb daai resep van die Weskus manier met ons stadsjapies.

Jan ·

Dis heel eenvoudig, vars vis het nie al hierdie speserye en dinge nodig nie, net sout, peper, suurlemoen en dalk so bietjie botterknoffels sous, enige iets meer as dit en die heerlike subtiele vis smaak gaan verlore, tensy jy af vis bedien, dan het jy al daai speserye nodig om dit te verbloem…

Watnou ·

Die 1 kg vissie klink vir my darem ernstig onwettig klein??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.