In die geurige Marokkaanse kookkuns word sarajalo (die Arabiese woord vir kweper) gereeld saam met hoender en ander vleissoorte gebruik. As jy nog nooit met kweper gekook het nie, is hierdie eenvoudige verfransde weergawe van ’n Marokkaanse tagine die ideale resep om mee te begin.
Lewer 4 porsies
Bestanddele:
- 2 e olyfolie
- 4 groterige stukke hoender
- 2 groot kwepers, geskil en in stukke gesny
- 2 t kaneel
- 2 t neutmuskaat
- sout en peper
- 2 e heuning
- 500 ml warm hoenderaftreksel
- ’n paar koljanderblare
Metode:
- Verhit die oond vooraf tot 180 °C.
- Verhit die olyfolie in ’n braaipan (met ’n deksel) wat ook in die oond gebruik kan word en braai die hoender oor matige hitte tot goudbruin.
- Haal af van die hitte en skep die hoender uit met ’n gaatjieslepel.
- Plaas die kweper in die pan, bestrooi dit met die helfte van die kaneel en neutmuskaat, en voeg sout en peper by. Roer om te meng.
- Plaas die hoenderstukke op die kwepers. Strooi die res van die kaneel en neutmuskaat oor.
- Los die heuning op in die warm hoenderaftreksel. Skink dit in die pan tot die hoenderstukke en die kwepers goed nat is. (As daar ’n bietjie aftreksel oorbly, hou dit eenkant en skink dit oor indien die hoender te droog word gedurende die gaarmaakproses.)
- Maak die braaipan toe en los dit vir sowat ʼn uur in die vooraf verhitte oond. Sodra die hoender gaar is en die kwepers sag maar nie pap nie, haal jy dit uit. As daar te veel sous is, kan jy dit nog ’n paar minute sonder die deksel laat bak.
- Snipper koljanderblare oor en sit voor saam met koeskoes of rys.
Bron: Winterkos in Provence – Marita van der Vyver
NB-Uitgewers