Soorte resepte:

[Resep] Hoenderpastei vir baie

Pastei

Foto: Carmen se beste resepte

Ek onthou die hoenderpastei van my kleintyd wat my tannie Martie so lekker kon maak, met haar eie tuisgemaakte skilferkorsdeeg. By enige familie-samekoms, van Kersfees tot seevakansies op Hartenbos, was dit op die tafel en ons het geëet totdat die bakke leeg was.

Vandag nag is my huis nooit sonder ʼn hoenderpastei in die vrieskas nie. Ek kies kortpad en gebruik gekoopte skilferkorsdeeg. As ek kleintjies maak, sommer in ʼn muffinpannetjie, gebruik ek fillodeeg. Hulle werk heerlik as inpakkos werk- of skool toe. Ek hou ook daarvan om soms ʼn bietjie spekvleis of pitmielies by die mengsel in te roer.

Maak 3-4 groot pasteie (12-16 porsies)

Voorbereidingstyd: 20 min

Bestanddele:

Vulsel

  • 3 heel hoenders, in porsies gesny
  • 1 liter (4 k) hoenderaftreksel
  • 250 ml (1 k) witwyn
  • 4 uie, geskil en gekap
  • 6 wortels, geskil en gekap
  • 6-8 peperkorrels
  • 4 heel naeltjies
  • 6-8 knoffelhuisies, gekneus
  • gerasperde skiI van 1 of 2 suurlemoene
  • 4 takkies pietersielie
  • 1-2 takkies vars roosmaryn (opsioneel)
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 125 ml ( ½ k) sago, in water geweek

Kors

  • 1 pak (800 g) skilferkorsdeeg, ontdooi
  • 1 eiergeel geklits met 15 ml (1 e) melk)

Metode:

Voorverhit die oond tot 200 grade C. Smeer 3-4 oondvaste bakke.

Vulsel

  1. Plaas al die bestanddele behalwe die sago in ʼn groot kastrol. Verhit tot kookpunt en laat kook sowat 20 minute.
  2. Haal van die stoofplaat af en trek die meeste van die hoendervelletjies af, indien verkies. Plaas terug op die hitte en laat prut sowat ʼn uur totdat die vleis heeltemal van die bene afval.
  3. Verwyder al die hoenderbene, voeg die geweekte sago by, verhit weer tot kookpunt en kook dan totdat die sago deurskynend is en die mengsel effe verdik.
  4. Roer van tyd tot tyd om te keer dat die sago aanbrand. Skep in die voorbereide bakke en laat goed afkoel.

Kors

  1. Rol die skilferkors effens dunner uit en plaas oor elkeen van die bakke met vulsel. Druk die kante vas en maak ʼn gaatjie in die middel.
  2. Verf met geklitste eiergeel en melk. Rol die oorskietdeeg uit, druk ʼn patroontjie uit en plak op die deeg. Verf dit ook met eiergeel en melk.
  3. Bak sowat 20 minute of tot die skilferkors gaar en goudbruin is.

Bron: Carmen se beste resepte
Uitgewer: Human & Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Deon Bruyns ·

Baie lekker!
Ek is in my 28 jaar van getroude lewe nooit toegelaat om te (leer) kook nie. Die uie is te dik of te dun gesny, die mengsel moet linksom of regsom geroer word, ens., ens.
Nou dat ek op my eie is, geniet ek die kookstorie geweldig. Die hele kuierproses begin met die voorbereiding (almal kry ‘n takie, en ‘n glasie wyn), en duur voort tot lank na die ete, natuurlik met ons musiek in die agtergrond!
‘n Voorstel vir ander knape wat die pastei ook wil aandurf: Koop asseblief hoenderfilette – jy wil nie vir twee ure staan en beentjies uithaal nie!

Deon Bruyns ·

Baie lekker!
Ek is in my 28 jaar van getroude lewe nooit toegelaat om te (leer) kook nie. Die uie is te dik of te dun gesny, die mengsel moet linksom of regsom geroer word, ens., ens.
Nou dat ek op my eie is, geniet ek die kookstorie geweldig. Die hele kuierproses begin met die voorbereiding (almal kry ‘n takie, en ‘n glasie wyn), en duur voort tot lank na die ete, natuurlik met ons musiek in die agtergrond!
‘n Voorstel vir ander knape wat die pastei ook wil aandurf: Koop asseblief hoenderfilette – jy wil nie vir twee ure staan en beentjies uithaal nie!

Deon Bruyns ·

As ek kan byvoeg: My totale koste per porsie gaan minder as R10 wees (alle kostes ingesluit), wat die kokery beslis die moeite werd maak!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.