Soorte resepte:

Resep: Krap-en-klapperkerrie

Krap-en-klapperkerrie (Foto: Lapa-uitgewers)

Dié krapgereg moet een van die bestes wees wat sowel die gesofistikeerdste as die eenvoudigste gas ooit sal proe. Maak seker dat jy ’n groot borslap aansit, aangesien die heerlike sous beslis oor jou gesig en arms gaan afloop!

Lewer 4-5 porsies

Bestanddele

  • 4 middelgroot tot groot krappe
  • 75 ml olyfolie
  • 2 middelgroot uie, in klein blokkies gekap
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap
  • 2 blikkies Italiaanse tamaties, stukkend gedruk
  • 400 ml volroommelk
  • 400 ml klappermelk
  • 30 ml matige kerriepoeier (gebruik meer as jy ʼn meer pikante kerrie verkies)
  • 200 ml gedroogde klapper, sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Metode

  1. Voordat jy hierdie gereg kan begin kook, moet die krappe eers skoongemaak en voorberei word. As die krappe vuil en vol sand is, skrop die doppe met ʼn borsel om die stukkies wat vassit te verwyder.
  2. Draai die krap se bene af en sit dit eenkant neer. Om die krap se dop af te haal, hou die onderkant van die krap met een hand vas en trek die dop weg van die liggaam met die ander hand, beginnende by die agterkant.
  3. Draai die krap om, trek aan die driehoekige deel en lig dit op. Draai die krap weer om, skraap die sponserige kiewe aan elke kant versigtig met ’n lepel skoon en gooi die skraapsels weg. Maak ook seker dat jy die binnegoed weggooi wat in die middel van die rug afloop.
  4. Haal die “krapbotter” – die geelbruin vleis in die holte van die skulp – uit en hou vir latere gebruik. As daar enige “krapbotter” in die vleiserige deel van die krap is, skraap dit met ʼn lepel uit en hou eenkant saam met die res van die “botter”.
  5. Spoel die res van die liggaam onder koue water af en gebruik ʼn skerp mes om dit in die helfte te breek. Kraak die bene en kloue met die agterkant van ʼn mes, maar moenie dit oopbreek nie, aangesien daar dan ʼn klomp vleis tydens die kookproses verlore sal gaan.
  6. Gebruik ’n groot swaarboomkastrol en soteer die uie in die olyfolie totdat dit sag en goudbruin is.
  7. Voeg die knoffel by die uie en laat dit sag kook.
  8. Voeg die geblikte tamaties by en laat prut oor lae hitte totdat die sous verdik het.
  9. Druk die “krapbotter” wat jy eenkant gehou het fyn met ’n vurk en voeg by die tamatiebasis. Laat sowat 2 minute lank prut.
  10. Voeg die skoongemaakte krap by die sous en roer totdat al die stukke daarmee bedek is.
  11. Meng die melk, klappermelk, kerriepoeier en gedroogde klapper in ’n groot mengbak voordat jy die mengsel in die kastrol gooi.
  12. Bring dit tot kookpunt en verminder dan die hitte tot die mengsel saggies prut. Kook sowat 30 minute lank en roer die krap kort-kort.
  13. As die krap eers sag is, toets of daar genoeg geurmiddels is en of die sous dik genoeg is. As dit te dun is, voeg eenvoudig nog van die gedroogde klapper by.

Wenke:

  1. Die “krapbotter” voeg nie net ’n ongelooflike klomp geur by die gereg nie, maar maak die sous ook lekker dik.
  2. Sit die gereg voor saam met varsgebakte brood.

Bron: Die Suid-Afrikaanse vis-en-seekoskookboek deur Susina Jooste en Henk Stander

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marlie ·

4 groot krappe!?! Is ek dalk kêns of mis ek iets? Waar in algemene handel in Suid Afrika anders as spesialiteitswinkels in miskien ‘n handjievol voorstede gaan ‘n mens krappe kry? Hoekom ‘n resep plaas wat “endemies” aan die lande is waar hierdie soort van krap volop verkrygbaar is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.