Soorte resepte:

[Resep] Lamsvleis-kofta-sosaties met suurlemoen-en-knoffelsous

Foto: Clover Gunsteling Braairesepte

Lamsvleis-kofta-sosaties met suurlemoen-en-knoffelsous. Foto: Clover Gunsteling Braairesepte

ʼn Heerlike resep vir ʼn kuier-aand!

Genoeg vir 6 mense

Bestanddele:

Suurlemoen-en knoffelsous

  • 1 eiergeel
  • 3 e (45 ml) olyfolie
  • ¾ k (180 ml) Clover-suurroom
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • 1 t (5 ml) Dijonmosterd
  • 2 e (30 ml) gekapte vars kruisement
  • 1 t (5 ml) droë gemengde kruie
  • ½ suurlemoen, gerasperde skil en sap
  • sout en fyn swartpeper

Lamsvleis-kofta-sosaties

  • 500 g lamsmaalvleis
  • ¼ k (60 ml) wit broodkrummels
  • 1 eier, geklits
  • 2 e (30 ml) gekapte vars koljanderblare
  • 1 e (15 ml) gekapte vars kruisement
  • 2 t (10 ml) fyn koljander
  • 1 t (5 ml) fyn komyn
  • 1t (5 ml) gerookte paprika
  • ½ t (3 ml) fyn kaneel
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • *4-6 metaalsosatiepenne
  • 1 e (15 ml) gesmelte Clover-botter

Metode:

Suurlemoen-en-knoffelsous

  1. Plaas die eiergeel in ʼn mengbak. Gebruik ʼn elektriese handklitser en klits geleidelik die olie in die eier in. Hou aan klits tot gemeng.
  2. Roer die oorblywende bestanddele by en geur na smaak. Bedek en verkoel in yskas tot gereed om op te dien.

Sosaties

  1. Plaas al die bestanddele in ʼn groot mengbak en meng deeglik.
  2. Deel die mengsel op in okkerneutgrootte balletjies. Rol elke balletjie in ʼn ovaalvormige worsie op ʼn plat oppervlak.
  3. Ryg 2 koftas aan elke pen en borsel met gesmelte botter. Plaas op die braai vir 4 minute om te karamelliseer voor jy dit omdraai en die ander kant braai vir 3-4 minute.
  4. Sit voor met die suurIemoen-en-knoffelsous, met vars kruie gesprinkel oor die koftas.

*Indien jy bamboes-sosatiestokkies gebruik, week die penne in warm water vir 20 minute voor gebruik om te keer dat hulle brand.

Alle wins met die verkoop van dié resepteboek, word aan die Clover Mama Afrika-projek gegee.

Bron: Clover Gunsteling braairesepte
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.