Soorte resepte:

[Resep] Maalvleis met lensies

Maalvleis met lensies (Foto: verskaf)

ʼn Basiese maalvleismengsel is iets wat jy beslis in jou resep-arsenaal moet hê. Dis ʼn gereg wat maklik in groot hoeveelhede gemaak kan word. Dan is daar genoeg vir ʼn aandete en om te bevries sodat jy die helfte van die werk vir ʼn volgende ete sommer klaar het. Dink maar net aan herderspastei, lasagne, op ʼn gebakte patat, in ʼn pannekoek vir die winter en so kan die lys koesterkos-etes aangaan.

Vir hierdie resep word die maalvleis met soortgelyke bestanddele gegeur as vir ʼn tipies geurige Italiaanse maalvleismengsel. Daar is baie maniere om maalvleis gaar te maak en hier is nog ʼn lekker weergawe. Gerasperde wortels gee ʼn lekker soeterige smaak en help om die surigheid wat tamaties soms het te balanseer. Vars of droë kruie kan gebruik word en gemaalde koljander is altyd lekker met maalvleis. Om die mengsel ʼn interessante aanslag te gee, word rooi lensies saam met die maalvleis gekook, want dis ʼn goeie bron van vesel en ook proteïen. Lensies hoef nie eers te week, soos droë bone nie, en is vinnig om gaar te maak. As jy sukkel om lensies in jou gesin se etes in te sluit omdat jou kinders dalk nie daarvan hou nie, is dit die ideale resep. Die gaar lensies word baie goed deur die wortels en maalvleis gekamoefleer.

Resep aangepas uit Cooking from the heart 3

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 4 t (20 ml) olyf- of avokado-olie
  • 500 g maer bees- of volstruismaalvleis
  • 2 uie, gekap
  • 250 g sampioene, gekap
  • 2 wortels, grof gerasper
  • 2 t (10 ml) gedroogde gemengde kruie of 30-45 ml gekapte vars kruie van jou keuse
  • 1 t (5 ml) gemaalde koljander
  • 2 t (10 ml) aangemaakte mosterd
  • 1 x 410 g-blik gekapte tamaties
  • ½ k (125 ml) sterk rooibostee
  • ½ k (125 ml) rou rooi lensies
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak

Metode:

  1. Verhit die helfte van die olie oor matige hitte in ʼn groot braaipan (AMC 24 cm Fry Pan werk goed). Braai maalvleis tot goudbruin en skep uit.
  2. Verhit die res van die olie in dieselfde pan en braai uie en sampioene tot sag. Roer die wortels by en braai nog ʼn paar minute.
  3. Roer die gedroogde kruie, koljander, mosterd, maalvleis en tamaties by. Verlaag die hitte en prut oor lae hitte met ʼn deksel vir 20 minute.
  4. Roer tee en lensies by en prut nog 20-30 minute of tot die lensies sag is. Die rooi lensies sal van ʼn helder oranje na lig oranje verander as dit gaar is. Geur met suurlemoensap en peper.
  5. Gebruik die maalvleis vir aandete of pak dit in ʼn kosblik met volkoring-pitabroodjies, vars slaaibestanddele en baba-spinasieblare.

Wenk: Los die maalvleis uit en gebruik 250 ml rooi lensies en 250 ml rooibostee en berei die resep verder net soos hierbo voor. Prut die lensies vir 20-25 minute en sit die mengsel as vegetariese ete voor.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.