Lewer 20 porsies.
Bestanddele vir die Wilde Weste-vulsel:
- 2 rooi uie, gekap
- 3 knoffelhuisies, fyngekap
- 1 pakkie (250 g) repiespek
- 20 ml olyfolie
- 1 kg
- beesmaalvleis
- 2 blikke (410 g elk) geskilde tamaties
- 1 blik (400 g) rooi nierbone
- 1 blik (400 g) botterbone
- 100 ml tamatiepasta
- 5 ml fyn kaneel
- 3 middelslag-rissies, gekneus
- 1 klein rissie, gekap
- 125 ml fyngekapte pietersielie
- 125 ml worcestersous
- 30 ml bruinsuiker
- Sout en varsgemaalde swartpeper
Metode:
- Braai die uie, knoffel en spek in die olyfolie totdat die spek effens bruin gebraai is.
- Voeg die maalvleis by en braai tot krummelrig.
- Voeg die tamaties, bone, tamatiepasta, kaneel en rissies by, roer goed en prut 10 minute oor ‘n lae hitte.
- Roer die pietersielie en worcestersous by en prut nog 30 minute lank.
- roer die bruinsuiker by en geur met sout en peper na smaak.
Bestanddele vir die brood:
- 8 x 250 ml (1 kg) bruismeel
- 2 blikke (410 g elk) heel pitmielies
- 30 ml droë oregano
- 300 g cheddarkaas, gerasper
- 30 ml growwe sout
- 15 ml gemaalde swartpeper
- 1 liter karringmelk
Metode:
- Voorverhit die oond tot 180 °C. Spuit 2 broodpanne met kleefwerende kossproei.
- Meng al die bestanddele goed saam in ‘n groot mengbak.
- Verdeel die deeg tussen die twee voorbereide panne en bak 1 uur lank. Toets die brood met ‘n toetspen. Indien nie gaar nie, bak nog 15 minute.
- Keer uit op ‘n afkoelrakkie. Sny in 1 cm dik snye.
Bou die jafels:
- Spuit die jafelpan goed met kleefwerende kossproei.
- Skep 2 eetlepels Wilde Weste-vulsel tussen twee snye brood, vou toe in die pan en rooster oor ‘n oop vlam tot goudbruin.
Born:
Uit: Kokkedoor 2 versamelresepte deur Errieda du Toit
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R265-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Die resepte is wow lekker dankie.
Julle webblad is baie gebruikersonvriendelik. Kan glad nie die resepte kopieer of druk nie. Moet ek nou voor die stoof met my rekenaar langs my staan om die resep te maak of met die hand van die rekenaar afskryf? Dit is die enigste reseptewebblad wat hierdie styl het. Is daar ‘n bepaalde rede daarvoor? Andre Grevelink
Dagsê Andre
Dankie vir jou navraag, ons moes ongelukkig ʼn funksie op ons webwerf aktiveer wat persone verhoed om die teks bloot te kopieer, aangesien van die webwerwe ons inligting onregmatig gebruik het. Ons is besig om te werk aan die drukkerstyl om seker te maak dat die teks weer uitgedruk kan word.
Intussen stel ek egter voor dat jy óf ʼn skermskoot maak en daarmee werk, óf alternatief kan jy regs bo op jou webblaaier (“browser”) op die knoppie klik wat soos drie horisontale lyntjies lyk (op Chrome en Firefox) of ʼn sirkelvormige ratjie (Internet Explorer). Dit maak verdere opsies oop en daar kan jy dan klik “print”. As jy nie ʼn drukker het nie, kan jy die dokument dalk in ʼn .pdf-formaat (elektronies) druk – dan kan jy makliker daarmee werk.
Ek hoop jy kom reg!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media