Soorte resepte:

Resep: Ouma Tom se vleispastei

Ouma-Tom-se-vleispastei

Ouma Tom se vleispastei. Foto: Huisgenoot Wenresepte 2/Human & Rousseau.

Lewer 8 porsies.

Bestanddele vir die pasteikors:

  • 525 g (4 x 250 ml ongesifte) koekmeelblom
  • 20 ml bakpoeier
  • 2 ml sout
  • 250 g botter of margarien
  • 325 tot 350 ml melk

Bestanddele vir die maalvleisvulsel:

  • 1 kg beesmaalvleis
  • 500 ml koue water
  • 70 g (250 ml) sagte witbroodkrummels
  • 25 ml asyn
  • 7 ml sout
  • 1 ml peper
  • 50 g (125 ml) gerasperde cheddarkaas
  • 1 eier, geklits

Metode:

  1. Sif die koekmeelblom, bakpoeier en sout saam. Sny die botter of margarien met twee slaplemmesse in die meelmengsel in tot die stukkies so groot soos ertjiekorrels is. Vryf dit verder liggies met die vingerpunte in tot taamlik goed gemeng. Sny die melk met ‘n mes in die meelmengsel in tot ‘n sagte, hanteerbare deeg gevorm het. Druk dit liggies aanmekaar, bedek en laat dit 30 minute lank in die yskas.
  2. Meng die maalvleis en 250 ml van die water met ‘n groot vurk in ‘n kastrol. Sit die deksel op en kook die vleis oor matige hitte tot gaar. Roer af en toe. Week die broodkrummels in die oorblywende 250 ml water, voeg dit by die vleis en voeg ook die asyn, sout en peper by. Roer gereeld en kook tot die mengsel slap en lymerig is. Laat dit afkoel.
  3. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  4. Rol tweederdes van die deeg taamlik dun op ‘n meelbestrooide blad uit en voer ‘n pasteibak met ‘n volume van 2,5 liter daarmee uit. Skep die koue vleismengsel in, strooi die kaas oor, sny die deegrande netjies en maak dit met koue water klam. Rol die oorblywende deeg uit en plaas dit oor die vulsel.
  5. Druk die rande styf vas en sny netjies. Maak die fatsoene met koue water klam en plak hulle op die bokors vas. Sny een of twee openinge in die bokors waardeur die stoom kan ontsnap. Verf geklitse eier oor die kors. Bak die pastei 25 tot 30 minute lank. Sit dit warm voor.

Bron:

Uit: Huisgenoot Wenresepte 2 deur Anette Human
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R295-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Louise Steyl ·

Baie dankie vi puik resepte is dit moontlik om daagliks resepte na email te stuur?

Jeanette Meyer ·

asseblief. Ek wil graag die resep van ouma Tom se
vleispastei hê

Adriana Ferreira ·

Ek wil net dit onder jul aandag bring. Ek het wenresep no 2 en gaan kyk hul meel is 4 koppies en nie 2 koppies nie. Kan iemand help. WAT IS REGTE VERHOUDING VAN MEELBLOM. Ek hoor graag van julle.

Sune van Heerden ·

Dagsê Adriana

Ons vra om verskoning vir die fout! Dit is inderdaad 525 gram (4 x 250 ml ongesigte) koekmeelblom. Ons het die resep gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Alta Woest ·

Sal julle asseblief so gaaf wees om die vleispastei se resep vir my per e-pos aan te stuur.

Baie dankie.
Alta

Tom Bruwer ·

My Oupa was Tom Labuschagne, van Mareetsane in die Noord Wes, en was getroud met Isabella Labuschagne, wat bekend was as Ouma Tom. Is dit dalk haar resep??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.