Soorte resepte:

[Resep] Saterdagaand-ná-die-fliek-pasta

Saterdagaand-na-die-fliek-pasta (Foto: Verskaf)

“Mamma, ek is honger!” Woorde soos dié kom gewoonlik op ’n tyd soos Saterdagaand ná ’n laatmiddagfliek waartydens Gertruida haar springmielies binne die eerste vyf minute op die vloer laat beland en Cornelius te veel sout en asyn op syne gestrooi het. Jy weet daar is niks wat gaar is by die huis nie, want hulle sou mos versadig gewees het van die grote bak springmielies.

Die bestanddele in hierdie resep is óf items wat alles reeds in jou huis is, óf items wat jy vinnig op pad huis toe ná die fliek by jou plaaslike supermark kan koop voor dit om 20:00 toemaak. Jy slaan dit binne 20 minute aan mekaar terwyl die kinders bad en pajamas aantrek. Dis boonop goedkoop bestanddele, wat jy selfs ná ’n fliek sal kan bekostig, skryf ‘n  Maroela-leser.

Bestanddele 

  • ½ tot ¾ pak pasta van eie keuse
  • 1 groot ui, opgesny
  • ¾ pak gesnyde sampioene
  • ½ soetrissie, in blokkies gesny
  • 1 pak (12) kaasworsies (of gerookte worsies van keuse)
  • 1 bottel sampioen-pastasous
  • 3 e fyn parmesaankaas (opsioneel)

Metode

  1. Kook die pasta volgens die aanwysings op die pak.
  2. Braai die ui in ’n groot pan in ’n bietjie olyfolie. Voeg die sampioene en soetrissie by en braai dit saam.
  3. Voeg die worsies by en braai tot ligbruin.
  4. Voeg die pastasous by en kook die mengsel vir ’n paar minute oor ’n lae hitte.
  5. Dreineer die pasta, en meng dit met die worsiemengsel in ’n groot bak. Strooi die parmesaankaas oor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.