Soorte resepte:

[Resep] Skaappotjie

Skaappotjie (Foto: Lapa-uitgewers_

ʼn Skaappotjie is die perfekte gereg vir ʼn luilekker Sondagmiddag!

Lewer 6-8 porsies

Bestanddele

  • Clover Mooi River-botter
  • 3 uie, in blokkies gesny
  • 10 ml (2 t) gekapte vars knoffel
  • (2 x 200 g-pakkies) spek, in blokkies gesny
  • 2 kg skaapvleis, in stukke gesny
  • handvol vars pietersielie, fyngekap
  • sout en peper na smaak
  • 250 ml (1 k) water
  • 4 wortels, geskil en in skywe gesny
  • 6 aartappels, geskil en in blokke gesny
  • 500 g groenboontjies, in stukkies gesny
  • 375 ml (1½ k) laatoeswitwyn
  • 250 ml (1 k) Clover- vars room
  • 60 g (1 pakkie) sampioensoppoeier

Metode

  1. Smelt genoeg botter in ʼn kastrol en braai die uie en knoffel. Gooi die spek by en braai tot gaar. Skep alles uit en hou dit eenkant.
  2. Smelt nog botter indien nodig en braai die skaapvleis in sarsies tot bruin.
  3. Gooi al die vleis terug in die kastrol. Voeg die pietersielie, sout, peper en water by. Laat prut dit ʼn uur lank oor lae hitte.
  4. Plaas die wortels, aartappels en groenboontjies bo-op die vleis. Giet die wyn bo-oor.
  5. Plaas die deksel op en laat prut dit nog ʼn uur lank tot die groente sag raak. Voeg die uie en spek by.
  6. Meng die room en soppoeier tot glad en giet dit oor die groente. Plaas die deksel op en laat prut nog 20 minute sodat die sous kan verdik.
  7. Sit dit warm saam met rys voor.

Bron: Gunsteling Suid-Afrikaanse kos

Uitgewer: Lapa

Net soos ʼn pannekoek met die beste resep nog steeds kan flop, kan Maroela nie pa (of ma!) staan vir enige van die resepte wat jy self by die huis probeer nie. Elke koppie meel, bakpoeier, melk, eier of enige ander bestanddeel is dus in jou eie hande en Maroela Media kan nie enige verantwoordelikheid aanvaar vir komplimente (of klagtes) oor jou kookvernuf nie. -Red

Deel van: Vleis en seekos

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Penellope Jones ·

Waar op aarde kry mens botter. . . . .
Nerens in die supermarkte is dit beskikbaar nie – buiten ingevoerde botter nie wat totaal onbekostigbaar is.
By een supermark kan mens “house brand” botter kry, maar teen R59.99 vir 500g voel dit meer na uitbuitery!

Penellope Jones ·

Ek glo nie so nie, Spar het sy eie “home brand” .

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.