Soorte resepte:

Resep: Skaapvleisbrijani

Skaapvleisbrijani (Foto: NB Uitgewers)

Dié dis sal jou hart warm maak.

Bestanddele

  • 6–8 aartappels, geskil en in blokkies gesny
  • olie vir diepbraai (vir die aartappels)
  • 4 x 250 ml (4 k) basmati-rys
  • 15 ml (1 e) sout (vir die rys)
  • 2,5 ml (½ t) borrie (vir die rys)
  • 75 ml (5 e) kookolie
  • 1 kg skaapvleis (of lamsvleis)
  • 3 kardemompeule
  • 3 kaneelstokkies
  • 2 steranyssade
  • 15 ml (1 e) komynsaad
  • 3 uie, fyngekap
  • 8 knoffelhuisies, gekap of fyngerasper
  • 1 groot stuk vars gemmer, fyngerasper
  • 45 ml (3 e) brijani-masala
  • 30 ml (2 e) rooi blaar-masala
  • 7,5 ml (1½ t) borrie
  • 15 ml (1 e) sout (of na smaak)
  • 250 ml (1 k) gaar lensies
  • 45 ml (3 e) botter
  • vars koljander, gekap

Metode

  1. Verhit die olie en diepbraai die aartappelblokkies tot goudbruin. Hou eenkant.
  2. Kook die rys vir net 7 minute saam met die sout en borrie of ’n titseltjie geel voedselkleursel. Dreineer en spoel af met koue water, bedek en hou eenkant.
  3. Verhit die olie in ’n groot kastrol oor matige tot hoë hitte en braai die stukkies vleis, heel speserye en uie tot goudbruin.
  4. Voeg die knoffel en gemmer en 250 ml (1 k) kookwater by en laat kook oor matige hitte totdat die water verdamp het. Roer af en toe. Herhaal die proses (die byvoeg van die 250 ml kookwater en laat kook totdat die water verdamp het) sowat drie keer of totdat die vleis byna sag is.
  5. Voeg al die fyn speserye en sout by en laat stowe vir 10–15 minute oor lae hitte – roer indien nodig. Voeg 250 ml (1 k) warm water by en kook oor matige hitte totdat die vleis sag is.
  6. Voeg 125 ml (½ k) warm water by en skep lae rys, aartappels, gaar lensies en botter oor die vleis, en heel laaste die vars koljander. Sit die kastrol se deksel op en laat prut oor lae hitte vir 20–30 minute. Roer dit net een keer nadat die 30 minute verby is. Sit voor met ’n sambal of atjar.

WENK:

  1. As jy die kooktyd wil verkort, kan jy die vleis vir ’n paar uur of oornag marineer in ’n bietjie ongegeurde jogurt met ’n klein bietjie knoffel, gemmer en speserye daarin.

Bron: Kaaps, Kerrie & Koesisters

Uitgewer: NB Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.