Soorte resepte:

Resep: Só maak Jan Braai

Foto: braai.com/

Foto: braai.com

Dis eintlik Jan se pa wat hom leer braai het, maar hy meen hy moes ook sy huiswerk doen met die hele braai-gedoente. “Ek het destyds baie opgelees oor kook en die reëls van die kombuis. Ek het nie gaan oplees oor hoe ander ouens braai nie, maar die beste praktyk as dit by die gaarmaak van ʼn biefstuk kom”.

Jan sê ons Suid-Afrikaners is so lief vir braai omdat dit deel is van ons. “Braai is deel van ons DNS – ons voorouers het gebraai. Dis deel van ons gebruike, ons weer is lekker en ons vleis is lekker.”

Vir Jan Braai gaan Braaidag eintlik oor die tyd wat jy saam geliefdes deurbring. “Ek gaan saam met my vriende en familie by die huis braai.”

Jan sê jy het hierdie 5 dinge nodig vir ʼn goeie braai:

  • Genoeg droë hout – houtskool en gas maak nie ʼn lekker vuur nie.
  • Goeie vriende.
  • Sonskynweer. Mens kan in die reën en sneeu braai, maar dis nie ideaal nie.
  • Baie ys – vir jou sap.
  • ʼn Goeie braaitang.

Hy deel ook graag een van sy resepte: Gebraaide Beef Wellington

Bestanddele:

  • 1 ui (fyngekap)
  • 250g sampioene (fyngekap)
  • 1 koppie (250ml) room
  • 1 rol pasteideeg (ontdooi)
  • 300g – 500g biefstuk (rump, sirloin of fillet)
  • kaas (opsioneel)
  • gerookte ham (opsioneel)
  • olyf olie
  • sout & peper

 Metode:

  1. Braai die fyngekapte ui en fyngekapte sampioene in ’n pan saam met olyfolie of botter. Gooi dan van die room of sommer alles by en laat dit afkook totdat dit ’n dik pasta vorm.
  2. Sny alle oortollige vet en senings van die vleis af en braai die biefstuk oor baie warm kole tot medium-rou. Laat die biefstuk ’n paar minute rus en sny dit dan in dun repies.
  3. Rol die pasteideeg uit op ’n snyplank en smeer die sampioen-roommengsel oor die een helfte. Pak die repies biefstuk bo-op en geur behoorlik met sout en peper. Indien jy so voel, kan jy ook kaas en ham bygooi, maar dit is opsioneel.
  4. Vou nou die skoon helfte van die deeg bo-oor en druk die kante van die pastei vas met ’n vurk.
  5. Braai vir omtrent 20 minute oor medium warm kole in ’n toeklaprooster tot gaar. Die gereg is gereed as die deeg goudbruin en bros is en die bestanddele deurwarm en gesmelt is. Wanneer mens pasteideeg braai, ‘smelt’ dit in ’n stadium en begin dit in die rooster insak. Moenie bekommerd wees nie. Net hierna begin dit gaar word en dan raak dit meer ferm.

Besoek gerus Jan Braai se webwerf vir meer resepte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MARIETTA ·

Jan se jy het 5 dinge nodig vir n goeie braai. Maar waar is die vleis? Lol!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.