Soorte resepte:

Resep: Steak-en-tamatie-gebak

Steak-en-tamatie-gebak (Foto: Lapa-uitgewers)

Dít is ʼn heerlike manier om oorskietvleis te gebruik.
Lewer 6 porsies

Bestanddele

VULSEL

  • 30 ml kookolie
  • sout na smaak
  • 5 ml varsgemaalde swartpeper
  • 5 ml knoffelpasta
  • 5 ml gemmer
  • 2,5 ml fyn komyn
  • 5 ml blaarmasala
  • 2 groen brandrissies, gekap
  • 250 g steak, in blokkies gesny
  • 1 ui, fyngekap
  • 60 ml gekapte vars koljanderblare (dhania)
  • tamaties, in skyfies gesny
  • papawer- en sesamsaadjies (opsioneel)

DEEG

  • 125 g koekmeel
  • 7,5 ml bakpoeier
  • 2 ml sout
  • 2 ml fyn swartpeper
  • 60 g sagte botter
  • 1 eier, geklits
  • 125 ml melk

Metode

VULSEL

  1. Verhit die olie in ʼn kastrol en braai die sout, peper, speserye, brandrissies en steakblokkies tot sag.
  2. Voeg die ui by en prut liggies tot die ui deurskynend is.
  3. Roer die gekapte koljanderblare deur en laat die vulsel eenkant om af te koel.

DEEG

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ʼn oondvaste bak van 30 x 22 cm.
  2. Sif die meel, bakpoeier, sout en peper saam.
  3. Vryf die botter by die meelmengsel in tot dit soos fyn broodkrummels lyk.
  4. Meng die eier en melk, en voeg dit dan by die meelmengsel. Meng tot dit ʼn sagte, klewerige deeg vorm.
  5. Skep tweederdes van die deeg in die voorbereide bak. Gebruik die agterkant van ʼn lepel en smeer die deeg sodat die meeste van die bak bedek is.
  6. Skep die gaar steak in die gevoerde bak en rangskik die gesnyde tamatie bo-oor.
  7. Gebruik ʼn mes en smeer die oorblywende deeg bo-oor die tamatie. Dit sal dalk ʼn bietjie moeilik wees omdat die deeg nie noodwendig aan die tamatie sal kleef nie.
  8. Verf geklitste eier oor die bokant van die deeg en strooi die papawer- en sesamsaadjies oor (indien gebruik).
  9. Bak vir ± 30 minute.

Bron: Kook saam Kaaps

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.