Soorte resepte:

Resep: Tamatie-en-ansjovistert

Tamatie-en-ansjovistert (Foto: Lapa-uitgewers)

Bestanddele:

  • 4 middelslag-tamaties, skil verwyder
  • 1 rooi soetrissie, skil verwyder, ontpit en in repe gesny
  • 1 geel soetrissie, skil verwyder, ontpit en in repe gesny
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 x 400 g-rol bevrore skilferkorsdeeg, oornag in die yskas ontdooi
  • 1 eiergeel
  • ansjovisfilette na smaak
  • gekapte vars pietersielie

Metode:

  1. Maak ʼn tamatiesmoor met die tamatie, soetrissies en knoffel. Geur met die sout en peper na smaak.
  2. Voorverhit die oond tot 220 °C en smeer ʼn quiche-pan.
  3. Rol die skilferkors op ʼn meelbestrooide oppervlak uit en voer die voorbereide pan met die deeg. Sny die rande van die deeg netjies. Gebruik die oortollige deeg om 2 cm-repe uit te sny.
  4. Verdun die eiergeel met ʼn bietjie water en verf dit oor die deegrand. Rangskik die deegrepe oor die korsrand sodat die kors dikker rande het. Prik die bodem van die tertkors met ʼn vurk en verf die res van die eiermengsel oor die kors.
  5. Bak vir 10 minute, verwyder die kors uit die oond en verlaag die temperatuur na 190 °C.
  6. Skep die tamatiesmoor in die tertkors en rangskik die ansjovis in ’n traliepatroon bo-op die smoor. Bak die tert vir 20-30 minute teen 190 °C . Maak seker die temperatuur is laer, anders sal die vulsel brand.
  7. Strooi die pietersielie oor en bedien dadelik.

Wenke:

  1. Plaas die tertkors in die yskas om koud te word voor dit gebak word. Yskoue deeg en ’n warm oond veroorsaak dat die skilferkors baie mooi oppof.
  2. Rooster die heel soetrissies in die oond en plaas dit warm in ’n plastieksakkie om te sweet. Die velle sal dan maklik aftrek.

Bron: Koljander, koljander so deur die Bosch

Uitgewers: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.