Hierdie sop is so vinnig om te maak en smaak heerlik! Gebruik goeie gehalte Italiaanse geblikte tamaties vir die lekkerste resultaat. Bedien die sop met ʼn paar skaafsels parmesaankaas vir ʼn spesiale geleentheid, of net so vir ʼn ligte aandete saam met vars brood en botter!
Genoeg vir 6 mense
Bestanddele:
- 30 ml botter
- 2 uie, gekap
- 2 blikke (410 g elk) Italiaanse styl- heel tamaties, grofgekap
- 2 middelslag-aartappels, gerasper
- 750 ml hoenderaftreksel
- 125 ml gekapte vars koljander
- 2 knoffelhuisies, fyngedruk
- sout en swartpeper
- 125 g mascarponekaas (jy kan meer bysit vir ekstra romerigheid)
Metode:
- Verhit die botter in ’n kastrol en soteer die uie.
- Voeg die tamaties, gerasperde aartappels, hoenderaftreksel en die helfte van die koljander by. Prut vir 20 minute.
- Voeg die knoffel by en geur met sout en peper.
- Verwerk die sop met ’n elektriese stokmenger of in ’n voedselverwerker tot glad.
- Voeg die mascarponekaas en die res van die koljander by net voordat jy die sop voorsit. (Warm die sop op, maar moenie dat dit weer opkook nie!)
Bron: Bak vir pret en profyt deur Christine Capendale
NB Uitgewers