Soorte resepte:

[Resep] Tuna-en-bonehutspot

(Foto: verskaf)

ʼn Vinnige en geurige tuna-en-bonehutspot is die ideale gereg vir ʼn koue wintersaand in die middel van die week. Die kerriepoeier, komyn en paprika vorm ʼn lekker kombinasie van winterspeserye. Die groente bied ʼn vullende basis wat ander stysel onnodig maak en met tuna en bone is daar genoeg proteïen.

Wintergeregte het dikwels klappermelk in omdat dit so goed met speserye kombineer. Ongelukkig kan dit nogal ʼn gereg baie ryk maak, veral as gevolg van die hoë vetinhoud. Vir hierdie resep maak ons ʼn slim plan deur gedroogde klapper en melk te meng vir ʼn soortgelyke geur, maar met heelwat minder ryk eindresultaat.

En dan is daar ʼn veerligte suurlemoen-teebroodjie, waarvoor jy net vyf bestanddele nodig het – ideaal vir ʼn koppie tee iewers in die vakansietyd.

Resep aangepas uit Cooking from the Heart 3

Lewer 4 porsies

Bestanddele:

  • 2 e (30 ml) fyn gedroogde klapper
  • 200 ml melk
  • 1 e (15 ml) Westfalia-avokado-olie
  • 2 uie, grofgekap
  • 3 wortels, gehalveer en in skyfies gesny
  • 3 murgpampoentjies, gehalveer en in skyfies gesny
  • 4 t (20 ml) matige kerriepoeier of na smaak
  • 4 t (20 ml) gemaalde komyn
  • 2 t (10 ml) paprika
  • 300 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
  • 1½ k (375 ml) rooibostee of water
  • 1 klein rooi of groen brandrissie, heel (opsioneel)
  • 1 x 410 g-blik rooi nierboontjies, gedreineer
  • 2 x 175 g-blikkies tuna in water, met die vloeistof
  • ½ t (2,5 ml) sout
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • handvol vars koljanderblare, gekap

Metode:

  1. Meng die klapper en melk saam en laat ’n paar minute staan.
  2. Verhit olie oor matige hitte in ʼn groot braaipan. Soteer uie, wortels en murgpampoentjies vir ’n paar minute.
  3. Roer die speserye en botterskorsie by en soteer tot aromaties. Verlaag die hitte en voeg die tee of water en die brandrissie by.
  4. Prut met die deksel vir 20 minute of tot die groente net gaar is, maar nie pap nie.
  5. Voeg die boontjies, tuna met die vloeistof, klapper met die melk en sout by. Roer deur en prut vir nog 5 minute of tot deurwarm.
  6. Geur met suurlemoensap en peper. Roer gekapte koljanderblare by en garneer met nog vars blare, indien verkies. Sit voor met avokado en ’n slaai.

Suurlemoen-teebroodjie

Resep van Westfalia Fruit

Lewer 1 teebroodjie

Bestanddele:

  • 100 ml Westfalia-suurlemoen-gegeurde avokado-olie
  • 4 groot Nulaid-eiers
  • 180 ml suiker
  • 200 ml bruismeel
  • 100 ml gemaalde amandels
  • versiersuiker om bo-oor te sif (opsioneel)

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n 1,5 liter broodpan uit en smeer met ’n paar druppels suurlemoen-gegeurde avokado-olie.
  2. Plaas olie, eiers en suiker in ’n groot mengbak en klits met ’n elektriese klitser vir 3-5 minute of tot donsig en lig in kleur. Maak seker dat die suiker heeltemal opgelos het – dit lewer die beste tekstuur.
  3. Sif die meel in ’n aparte bak en meng die amandels by. Vou die droë bestanddele versigtig by die eiermengsel in.
  4. Skep beslag in die broodpan en bak vir 40-45 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat ’n paar minute in die broodpan staan. Keer uit en laat op ’n afkoelrakkie afkoel.
  5. Sif versieksuiker bo-oor, indien verkies, en sit voor vir teetyd of as bederf in ʼn kosblik.

Wenk: Sit die teebroodjie as nagereg voor met Griekse jogurt en bessies, wanneer dit in seisoen is.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.