Soorte resepte:

[Resep] Tuna-roulade

Tuna-roulade. Foto: Clover Ekonomiese Gesinskos.

Lewer 4 porsies

Bestanddele:

Roulade

  • 4 ekstragroot eiers, geskei
  • 30 ml suiker
  • 125 ml koekmeel
  • sout en witpeper na smaak
  • 6 sprietuie, fyngekap
  • ekstra bakpapier
  • 30 ml fyngerasperde Parmesaankaas

Tunavulsel

  • 60 ml sagte Clover Mooi River-botter
  • 250 ml gerasperde Clover Mature-cheddarkaas
  • 1 x 170 g-blikkie tuna in water, gedreineer en gevlok
  • 80 ml mayonnaise
  • 80 ml blatjang
  • 30 ml fyngekapte vars pietersielie
  • 2 sprietuie, fyngekap
  • knippie sout

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ʼn bakplaat van ongeveer 35 cm x 25 cm. Voer die gesmeerde bakplaat met bakpapier uit en smeer dan die bakpapier.
  2. Roulade: Klits die eierwitte met elektriese klitser tot net-net styf. Voeg die suiker by en klits tot sagtepuntstadium.
  3. Klits die eiergele met ʼn vurk tot net gemeng. Vou die eiergele by eierwitmengsel in.
  4. Sif die koekmeel, sout en peper oor die eiermengsel. Strooi die sprietuie bo-oor en vou alles by die eiermengsel in.
  5. Skep die beslag in die voorbereide bakplaat en maak dit gelyk bo-op. Bak vir 10-12 minute tot goudbruin bo-op en laat dit effens afkoel in die bakplaat.
  6. Strooi die Parmesaankaas op ʼn skoon vel bakpapier en keer roulade daarop uit.
  7. Sny die gebakte kante van die roulade met ʼn broodmes af. Rol die roulade op met behulp van bakpapier, maar maak seker dat die bakpapier nie in die middel van roulade opgerol is nie. Hou eenkant.
  8. Tunavulsel: Verroom die botter met ʼn houtlepel in ʼn mengbak en roer dan die kaas by. Meng goed.
  9. Roer al die oorblywende bestanddele by die vulsel en meng goed.
  10. RoI die roulade oop en smeer die tunavulsel versigtig oor die roulade. Moenie tot op die kante van die roulade smeer nie, anders druk jy baie van die vulsel uit wanneer die roulade opgerol word.
  11. Rol die roulade op en plaas op ʼn geskikte opdienbord.
  12. Dien op teen kamertemperatuur as ligte middagete saam met ʼn slaai.

Bron: Clover Ekonomiese gesinskos
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jonsie ·

Sit tuna, sprietuie, bietjie kaas, mayo en blatjang op ‘n ryskoekie. Garneer met gekapte pietersielie en voila! Baie gesonder en nie ‘n duisend ongewikkelde prosesse om ‘n deegwors met bietjie blikvis in te rol nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.