Soorte resepte:

[Resep] Varknektjops met gemmerbeskuitjies

Varknektjops met gemmerbeskuitjies (Foto: Een pot, pan, bakplaat)

Varknektjops met gemmerbeskuitjies (Foto: Een pot, pan, bakplaat)

Die oorspronklike resep is Theresa de Vries sʼn. Sy is nie net ʼn  koningin van deeg nie, maar beslis ook ʼn behendige hand as dit by vleisgeregte kom.

Bestanddele

  • 1 e (15 ml) meel
  • sout en peper
  • 1 kg varknektjops
  • 2 uie, gekap
  • 3 repe spek, gekap
  • olyfolie
  • 1 k (250 ml) water (of aftreksel)
  • 1 lourierblaar
  • ¾ k (190 ml) perske- of mangoblatjang
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • 150 g geel sultanas
  • 4 peperkorrels, gekraak
  • 2 patats, in skyfies gesny
  • 1 fles (130 g) snoepuitjies, gedreineer
  • 8 gemmerbeskuitjies, gekrummel

Metode

  1. Geur die meel met sout en peper en bedek die varktjops daarmee. Skud die oortollige meel af.
  2. Plaas die tjops, uie en spek in ‘n groot pot oor matige hitte. Bedruip met olyfolie en braai vir ongeveer 10 minute. Draai die tjops af en toe om sodat dit oraloor bruin braai.
  3. Voeg die water, lourierblaar, blatjang, knoffel, sultanas en peperkorrels by.
  4. Sit die deksel op en laat prut oor lae hitte vir 30 minute. Voeg die patats by en prut vir nog 30 minute, of totdat die vleis en patats baie sag is. Kyk gereeld in die pot en giet nog water of aftreksel by indien nodig.
  5. Voeg die snoepuitjies en gemmerbeskuitjies by en meng deeglik.
  6. Kook vir nog 15 minute en sit dan voor.

Bron: Een pot, pan, bakplaat
Uitgewer: Human & Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.