Soorte resepte:

Resep: Voortreflike pasteideeg

Voortreflike pasteideeg (Foto: Lapa-uitgewers)

“Die resep kom van Brenda, die bobaas-tuisnywerheidbakster, se skoonma, ouma Kamstie. Dit kan ook in ’n voedselverwerker gemeng word, maar dit is maar net nie dieselfde nie. Werk met jou hande – dit is terapeuties, goed vir jou siel en die deeg. Albei bestanddele moet yskoud wees. Sit selfs die mengbak ’n uur voor die tyd in die yskas. En belê in ’n rolstok van marmer. Ek het myne in ’n rommelwinkel vir R5,00 gekoop,” het Riana Scheepers in haar resepteboek, Vallei van melk en heuning, geskryf.

Bestanddele

  • 4 x 250 ml (4 k) koekmeel
  • 10 ml (2 t) kremetart
  • 5 ml (1 t) sout
  • 500 g koue botter
  • 2 eiergele
  • 20 ml (4 t) brandewyn
  • 10 ml (2 t) suurlemoensap
  • 200 ml (⅘ k) of meer koue sodawater
  • ekstra meel, gemeng met kremetart

Metode

  1. Sif die meel, kremetart en sout in ’n groot mengbak.
  2. Rasper die botter en vryf dit in die meel in tot dit soos krummels lyk.
  3. Klits die eiergele, brandewyn en suurlemoensap saam, voeg dit by en meng deur.
  4. Voeg genoeg sodawater by om die deeg te bind en meng liggies tot ’n stywe deeg.
  5. Verdeel die deeg in vier balle, draai dit toe in kleefplastiek en laat dit vir sowat 2 uur in die yskas rus.
  6. Rol die deeg op ’n meel-en-kremetart-bestrooide oppervlak uit tot ’n reghoek. Vou die kante in en rol weer uit. Laat weer in die yskas rus vir ’n uur. Herhaal die proses nog twee keer, maar sit dit na elke uitrol terug in die yskas vir ten minste ’n uur.
  7. Rol die deeg tot 3 mm dik op ’n meelbestrooide oppervlak uit en bedek ’n pastei daarmee.
  8. Verf die deeg met geklitste eier en bak die pastei in ’n voorverhitte oond teen 200 °C vir sowat 40 minute tot goudbruin.

Bron: Vallei van melk en heuning deur Riana Scheepers

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anja van der Merwe ·

Dagsê Bokkie

Dankie vir jou navraag. Soos wat kosmaak maar gaan, moet mens partykeer net voel wat vir jou reg is. Jy kan dus self kies hoeveel meel en kremetart om te strooi. Dit moet net verhoed dat die deeg aan die oppervlakte vassit. Ek sal gewoonlik sommer so hand vol van elk strooi en dan nog bietjie byvoeg as ek sien dit raak te min. Lekker bak!

Groetnis
Janie
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.