Soorte resepte:

[Resep] Waterblommetjiebredie

Foto: Lekker en Vinnig - Tradisionele Kos

Waterblommetjiebredie. Foto: Lekker en Vinnig – Tradisionele Kos

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 30-45 ml olyfolie
  • 1 kg skaapvleis, bv. blad of skenkels, in skywe gesny
  • 2 uie, gekap
  • 250 ml droë witwyn of hoenderaftreksel
  • 15 ml droë tiemie
  • 2-3 wonderpeperkorrels
  • 2-3 heel kruienaeltjies
  • 15 ml druiwe- of wynasyn
  • 3 knoffelhuisies, gekap
  • knippie brandrissiepoeier of rooipeper
  • 500 g waterblommetjies, skoongemaak
  • 2-3 aartappels, geskil en in blokkies gesny
  • sap van 2 suurlemoene
  • 2 kaneelstokkies
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • knippie suiker na smaak
  • knippie neutmuskaat na smaak

Metode:

  1. Verhit die olie oor matige hitte in ʼn groot kastrol en verbruin die vleis in twee sarsies tot goudbruin. Skep met ʼn gaatjieslepel uit en hou eenkant. Geur na smaak.
  2. Plaas die uie in dieselfde kastrol en soteer tot amper sag. Roer die wyn of aftreksel, kruie, speserye, asyn, knoffel en brandrissiepoeier of rooipeper by. Verhit oor matige hitte tot kookpunt.
  3. Skep die vleis terug in die kastrol, verlaag die hitte en laat prut baie stadig met die deksel op vir ongeveer 1 uur of tot die vleis feitlik sag is.
  4. Voeg die waterblommetjies, aartappels, suurlemoensap en kaneelstokkies by en prut nog 45 minute of tot die groente sag, maar nie pap is nie.
  5. Geur na smaak met sout, peper, ʼn bietjie suiker, nog suurlemoensap indien nodig en neutmuskaat.
  6. Sit op rys voor.

Wenk:

Vegetariese variasie: Waterblommetjies kombineer ongelooflik goed met die smaak van bruin lensies. Berei die dis net soos beskryf, maar laat die vleis weg en roer 500 g gaar bruin lensies saam met die waterblommetjies by die uiemengsel. Prut net tot die waterblommetjies sag is, geur en sit voor.

Bron: Lekker en Vinnig – Tradisionele kos
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Onthoukos, Heleen Meyer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.