Soorte resepte:

Resep: Wors-en-fetakaas-slaai

(Foto: Beste uit Vrouekeur no. 3)

Oorweeg dié slaai met botterskorsie, boerewors en fetakaas, ʼn kombinasie waarmee jy net kan wen.

Lewer 4 porsies

Bestanddele

  • 45 ml olyfolie
  • 1 botterskorsie, in blokke gesny
  • 500 g boerewors
  • 1 rooi ui, in dun wiggies gesny
  • 45 ml balsamiese asyn
  • 10 ml ligte bruinsuiker
  • 250 g sampioene, gehalveer
  • ʼn handvol roketblare
  • 1 fetakaasskyf, gekrummel
  • 250 ml mozzarellakaas, in blokkies gesny

Metode

  1. Plaas die botterskorsie in ʼn glasbak en voeg ʼn klein bietjie water by. Bedek met kleefplastiek en mikrogolf vir vyf minute tot sag. Trek die kleefplastiek effens af en giet die oortollige water af. Hou eenkant.
  2. Verhit die ʼn bietjie van die olie en braai die wors tot gaar. Sny in stukkies en hou eenkant.
  3. Verhit nog ʼn bietjie olie en soteer die ui tot sag. Voeg die asyn en suiker by. Soteer vir nog 5 minute totdat die suiker opgelos is.
  4. Verhit solank ʼn bietjie olie in ʼn ander braaipan en soteer die sampioene tot gaar. Skep die sampioene by die uimengsel.
  5. Verhit die olie indien nodig en braai die botterskorsie liggies.
  6. Skep die botterskorsie en worsstukkies by die uimengsel. Kook tot deurwarm.
  7. Skep op ʼn opdienbord. Strooi die roketblare, feta en mozarella bo-oor.
  8. Sit dadelik voor.

Bron: Beste uit Vrouekeur 3
Uitgewer: Lapa-uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mina ·

Ek het vinnig uitgewerk dat dié slaaitjie my by die R200 gaan kos om te maak, dan is dit net ‘n bykos. Die hoofbestandele (kaas, wors, sampioene) kan met stapelvoedsel (brood, pasta, mieliepap) uitgebrei word tot 3 volle gesinsetes, met ‘n slaaitjie by. Ek weet nie of ek maar net arm en eenvoudig is nie, maar dis te duur. Ek kan selfs ‘n volle wegneem-gesinsete met R200 koop. Nie die moeite werd vir so ‘n oninteressante bykos nie, jammer.

Annatjie ·

Die aantal kastrolle en panne wat jy moet gebruik vir een dis is belaglik

Marius ·

Dit lyk heerlik en sal dit beslis probeer op ‘n vrydag aand of saterdag middag wanneer jy nie lank voor die stoof wil staan nie. :-)

Mel84 ·

Dit lyk heerlik! En ek dink nier hierdie sal ‘n ‘bykos’ wees nie. Gaan dit beslis probeer…sonder die suiker na Desember haha.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.