Soorte resepte:

Resep: Smelt-in-die-mond-beesstert

beesstert01 JPG

Smelt-in-die-mond-beesstert. Foto: Leserskring Spogresepte/Human & Rousseau

Lewer 10 tot 12 porsies

Bestanddele:

  • 2 groot uie, grofgekap
  • 4 wortels, grofgekap
  • 4 stingels seldery, grofgekap
  • knoffel na smaak
  • 2,5 – 3 kg beesstert
  • 1 bottel (750 ml) droë rooiwyn
  • 1 sakkie of bottel (130 g) songedroogdetamatiepesto of 20 gerehidreerde songedroogde tamaties
  • 10 ml witsuiker
  • 30 ml sojasous
  • 15 ml worcestersous
  • 15 ml gedroogde gemengde kruie
  • 45 ml crème fraîche of suurroom
  • 30 ml gekapte pietersielie

 Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 150 °C.
  2. Berei die groente en knoffel voor en plaas op die boom van ʼn oondvaste skottel.
  3. Bedek die groente met die beesstert en giet die rooiwyn daaroor.
  4. Voeg die res van die bestanddele, behalwe die crème fraîche en die pietersielie, by.
  5. Bak met die deksel op vir 6-8 uur tot die groot stukke sag is.
  6. Wanneer dit koel genoeg is om te hanteer, skep die beesstertstukke met ʼn lepel uit en plaas oornag in die yskas.
  7. Gooi die vloeistof van die groente af en plaas ook oornag in die yskas in twee afsonderlike houers.
  8. Verwyder die volgende dag die laag vet van die vloeistof en gooi die vloeistof in ʼn kastrol en verhit op die stoofplaat (die beesstertstukke sal steeds groot sigbare stukke vet hê). Verwyder met ʼn mes. Gooi die vet weg of hou om aartappels in te braai.
  9. Verwerk die groente in ʼn voedselverwerker tot glad en voeg by die vloeistof op die stoofplaat.
  10. Roer tot gemeng. Die mengsel behoort dik genoeg te wees.
  11. Prut liggies en voeg die crème fraîche by.
  12. Giet ʼn laag groente- en vleissous in jou opskepskottel gevolg deur ʼn laag beesstertstukke. Herhaal en eindig met ʼn laag vleissous.
  13. Maak in die oond warm vir 1 uur teen 150 °C.
  14. Sit voor met kapokaartappels wat met gekapte preie gegeur is en jou keuse van groente of slaai. Tuisgebakte brood is ook ʼn goeie keuse.

 Bron:

Die resep is oorspronklik gepubliseer in Leserskring Spogresepte wat saamgestel is deur Christelle Erasmus. Die resepteboek is uitgegee deur Human & Rousseau. Besoek die uitgewer se webwerf vir meer inligting oor die boek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tommy ·

Hoe water my mond nou!
Dinknie ek sal ‘n dag kan wag voordat ek weglê aan hierdie dis nie. Net jammer beesstert is so duur – en veral nog as jy 2-3kg moet koop soos wat die resep vereis. Maroela Media plaas maar liewers resepte wat ons allerdaagse ouens kan bekostig.

Sune van Heerden ·

Dagsê Rene

Klik gerus regs bo op die bladsy op die webblaaier (“browser”) se opsies-knoppie (op Chrome en Firefox is dit drie horisontale strepies en op Internet Explorer is dit ‘n ratjie (sirkelvormig)). Op daardie spyskaart sal die opsie “Print” wees.
Alternatief kan jy ‘n skermskoot (“print screen”) maak van die resep en dit dan uitdruk.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.