Soorte resepte:

Resep: Rooikerrie-gemarineerde biefsosaties

Rooikerrie-gemarineerde biefsosaties (Foto: Lapa-uitgewers)

ʼn Heerlike en geurige sosatie, nét reg vir die braai!

Genoeg vir 6 mense

Bestanddele

ROOIKERRIE-MARINADE

  • ½ k (125 ml) Clover Krush‑bessiesap
  • ¼ k (60 ml) Clover‑room
  • 2 e (30) olyfolie
  • 1 e (15 ml) Thai rooikerrie-pasta
  • 1 e (15 ml) fyn gerasperde vars gemmer
  • 1 e (15 ml) rysasyn
  • 2 knoffelhuisies, fyn gedruk

BIEFSOSATIES

  • 800 g bees-kruisskyf of volstruis-steak, in 3-4 cm blokkies gesny
  • 1 rou ui, in blokkies gesny
  • 1 rooi soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
  • 250 g knopiesampioene, steeltjies verwyder
  • 4-6 metaal sosatiepenne

OM OP TE DIEN

  • 1 lemmetjie, in kwarte gesny
  • 2 e (30 ml) gekapte vars koljanderblare
  • 1 e (15 ml) geskeurde basiliekruidblare

Metode

ROOIKERRIE-MARINADE

  1. Plaas al die marinade­bestanddele in ‘n nie-metaalhouer en meng goed.
  2. Gooi die steakblokkies by en meng die marinade deur. Bedek en verkoel in die yskas vir ten minste een uur.

BIEFSOSATIES

  1. Verwyder die steak uit die sous en ryg aan die sosatiepenne – wissel af met stukkies uie, rooi soetrissie en knopiesampioene.
  2. Rooster op ‘n baie warm braai tot so gaar soos jy verkies. Plaas op ‘n opdienbord en druk die lemmetjiesap uit oor die sosaties. Garneer met koljander en basiliekruidblare.

Wenk: As jy bamboes-sosatiestokkies gebruik, week hulle in warm water vir 20 minute voor gebruik om te keer dat hulle brand.

Bron: Gunsteling Braairesepte

Uitgewer: Lapa

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.