Soorte resepte:

[Resep] Sappige hoenderfilette

Sappige hoenderfilette en mielie-en-lensiekoekies (Foto: Verskaf)

Nou ja, die skoolvakansie het tot ʼn einde gekom en vir baie van ons is dit nou weer tyd om gereeld kosblikke te pak. Hierdie mielie-en-lensiekoekies is een van my kinders se groot gunstelinge en so maklik om te maak dat ek sommer ʼn dubbele mengsel bak vir aandete en die week se kosblikke.

Die ander resep bly vir my die beste manier om hoenderborsfilette gaar te maak sodat dit sappig bly. So dikwels maak mense die opmerking dat hulle nie van hoenderborsfilette hou nie, omdat dit te droog is. As dit teen die regte temperatuur gaargemaak word en nie vir te lank nie, sal dit nie sommer oorgaar en droog word nie.

Beproef gerus hierdie twee maklike maar baie lekker resepte dié week en maak dit sommer gou deel van jou gunstelingresepte-leêr.

Resep uit Maak vyf/Make five

Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele:

  • 15 ml (1 e) Westfalia-avokado-olie van jou keuse
  • 4-6 hoenderborsfilette
  • sout en peper
  • 30 ml (2 e) suurlemoensap of witwyn

Metode:

  1. Verhit die olie oor matige hitte in ’n braaipan (AMC 24 cm Chef’s Pan is ideaal). Braai die filette vir ’n paar minute aan die een kant tot goudbruin – begin verkieslik met die kant wat na bo op die bord gaan wys. Geur na smaak.
  2. Draai die filette om en braai ook aan die ander kant tot goudbruin, maar nog nie gaar nie.
  3. Moenie in die versoeking kom om die filet te braai tot dit heeltemal gaar is nie, want dis juis wanneer die vleis maklik uitdroog. Geur die kant ook na smaak.
  4. Draai die filette weer om, sodat die kant wat na bo gaan wys na die bodem van die pan wys.
  5. Stel die hitte laag, giet die suurlemoensap of wyn in die pan en sit dadelik die deksel op. Die vloeistof sal redelik stoom, maar hou die deksel op. Lig dit slegs vir ’n oomblik, indien nodig.
  6. Laat die filette vir 5-7 minute prut, tensy dit baie dik filette is. Toets dit ná 5 minute deur op die dikste deel te druk. Die vleis moenie heeltemal styf wees nie, dan is dit reeds te gaar. Dit moet nog effens sag wees in die middel en lekker sappig as jy dit sny, maar nie pienk nie.
  7. Sit warm voor met bykosse van jou keuse of gebruik die hoender in kosblikke. Laat die filette heeltemal afkoel, sny in kleiner stukkies of skyfies en pak met vars bestanddele, soos groente en avokado.

Mielie-en-lensiekoekies

Resep aangepas uit Cooking from the heart 1

Lewer 30 klein koekies

Bestanddele

  • ½ x 410 g-blik bruin lensies, deeglik gedreineer
  • 1 x 410 g-blik geroomde suikermielies
  • 250 ml (1 k) steengemaalde volkoringmeel
  • 2,5 ml (½ t) bakpoeier
  • 1 ekstragroot Nulaid-eier, geklits
  • 125 ml (½ k) melk
  • 5 ml (1 t) gemaalde gemengde speserye
  • 30 ml (2 e) Westfalia-avokado-olie

Metode

  1. Meng al die bestanddele, behalwe die olie, saam in ’n groot mengbak.
  2. Verhit ’n dun lagie van die olie in ’n groot braaipan (’n AMC 24 of 28 cm Chef’s Pan werk goed). Skep lepelsvol van die beslag in die braaipan en braai aan weerskante tot goudbruin en gaar. Herhaal met die orige beslag en olie.
  3. Dreineer op kombuispapier en sit voor as ’n bygereg met hoender, vis of vleis. Die mielie-en-lensiekoekies is ook baie lekker in ’n kosblik.

Onthou om elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt te kyk vir nog sulke idees. Volg my op Facebook: www.facebook.com/HeleenMeyerFood vir elke week se wenke en resepte. Onthou dat my resepteboek, Maak vyf, ook nog tot einde vandeesweek teen ʼn spesiale prys op Maroela Media se e-winkel beskikbaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.