Soorte resepte:

Resep: Stowetjops met kluitjies

Stowetjops met kluitjies (Foto: Lapa-uitgewers)

Hierdie heerlike resep sal jou kombuis fantasties laat ruik!

Lewer 4 porsies

Bestanddele

  • 30 ml visolie
  • 2 uie, gekap
  • 3 wortels, geskil en in skyfies gesny
  • 3 kaneelstokkies
  • 8 peperkorrels, fyngestamp
  • 6 heel kruienaeltjies
  • 8 boudtjops
  • 15 ml sago
  • 250 ml bruismeel
  • 10 ml visolie
  • knippie sout
  • 125 ml water

Metode

  1. Verhit die olie in ʼn swaarboomkastrol en braai die uie liggies tot deurskynend. Voeg die wortels, kaneelstokkies, peper en kruienaeltjies by en roer deur.
  2. Voeg die tjops by en stowe dit oor matige hitte tot die vleis sag is.
  3. Roer die sago liggies deur die vleismengsel.
  4. Meng intussen die bruismeel, olie, sout en water saam tot ʼn stywerige deeg vorm.
  5. Skep poedinglepels vol deeg in die vleissous en prut vir 15-20 minute oor matige hitte.

Bron: Kook saam Kaaps

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Koos ·

Snaakse resep of is ek nou kombuisdom?

8 Boudtjops kan sekerlik net skaapboud tjops wees.

Nou hoekom dan visolie om alles wat saamgaan daarin te stowe?
Ook visolie om die kluitjies se deeg mee te maak?

Vis smaak en skaapboud tjops saam, is dit nie wildvreemd nie?

MammaM ·

Koos
Stem 100% saam – VISolie???
Maak glad nie sin nie – klink glad nie lekker nie

Lindtjies ·

Sjoe om boud tjops te verineweer met so ‘n resep veral as dit skaap boud tjops is? Dit klink vir my alteveel na een van Hilda se konkoksies. Ek weet ook nie so lekker van die sago in die dis nie

Bokkie ·

Vroeër jare, is gewone kookolie vir een of ander rede, “visolie” genoem.

Bella Benade ·

Visolie is waarin vis en tjips ge”fry” word. Nou nog gebruik.

Kaaps ·

Dis KAAPS daarom visolie
of olie volgens jou smaak
Sago raai ek om sous bietjie te verdik
Of soos kaviaar/viseiers te lyk

Sarie ·

Ek sal hierdie resep vir skaapvleis nie lam gebruik nie, want skaap se tekstuur is growwer en moet langer kook. Lam sal fyn kook. Hoenderpastei word ook dikwels met sago verdik. Olyfolie of druiwepitolie behoort net so goed te werk en ‘n bietjie botter of margarine in die deeg van die kluitjies kan ook gebruik word as jy te bang is dit is te vetterig.

Essa ·

Die resep dateer beslis van Ouma se dae af. Visolie is gewone sonneblom kookolie waarin vis gebak word en is daarna verwys as visolie. ‘n Skaap tjoppie is altyd ‘n wenner met of sonder fieterjasies !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.