Soorte resepte:

[Resep] Kerrie-en-witwynmosselsop

Foto: Lekker en Vinnig - Kerries

Kerrie-en-witwynmosselsop. Foto: Lekker en Vinnig – Kerries

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 15 ml sonneblomolie
  • 15 ml botter of margarien
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 5 ml kerriepoeier
  • 5 ml hoenderaftrekselpoeier
  • 30 ml koekmeelblom
  • 1 liter melk of 500 ml melk, plus 250 ml water, plus 250 ml room
  • ± 500 g skoongemaakte, gaar mossels of ingemaakte mossels, gedreineer en goed afgespoel
  • 125 ml witwyn
  • 2-3 sprietuie, gekap
  • sout en swartpeper na smaak

Metode:

  1. Plaas die botter of margarien, olie, ui en kerriepoeier saam in ʼn kastrol en soteer liggies oor lae hitte terwyl dit af en toe geroer word, tot die ui sag is.
  2. Roer die hoenderaftrekselpoeier en koekmeelblom by en voeg die melk (of melk, water en room) by. Bring tot kookpunt terwyl geroer word sodat ʼn gladde, dun sous verkry word.
  3. Voeg die mossels, wyn en sprietui by en laat 10 minute lank baie stadig prut. Voeg sout en peper na smaak by en laat nog ʼn paar minute lank prut.
  4. Bedien stomend warm in warm sopkommetjies en skep ʼn teelepelvol room daarop om dit af te rond.

Variasie

  • Kerriegarnaal/steurgarnaal/seekossop: Vervang die mossels met skoongemaakte, goed afgespoelde garnale of steurgarnale of marinara-mengsel en voeg dit by die sopbasis saam met die wyn en sprietui. Volg dan die stappe soos hierbo beskryf .
  • Kerriehoendersop: Verwyder al die sigbare vet en oortollige vel van ongeveer 1 kg hoenderporsies en bedek met 500 ml water. Laat opkook en prut 30 minute lank onbedek of tot die vleis baie sag is en die vloeistof met die helfte verminder het. Giet die aftreksel deur ʼn sif en gebruik dit as ʼn deel van die vloeistof in die resep in plaas van water of melk. Verwyder die vel en bene, sny of breek die hoender in stukkies en voeg dit in plaas van die mossels by die sop.
  • Kerriegroentesop: Vervang die mossels met 500 g netjies gesnyde, gemengde gaar groente, soos wortels, ertjies, broccoli, groenbone, aartappels en mielies, of gemengde bevrore groente wat afgespoel en gedreineer is.

Bron: Lekker & Vinnig
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Keurkos vir elke dog, Carolie de Koster

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bosbok ·

Hierdie resep klink heerlik, maar watter soort witwyn werk die beste? Witwyn kan enige iets beteken van n wit muskadel tot n wyntjie so droog dat jy oortuig daarvan is dat dit aangemaak moet word met water. n Aanbeveling van die tipe wit wyn wat die mees geskikste is vir die resep in die bestandele lys of by “metode” sal baie helpvol wees vir die clueless kokle onder ons.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.