Soorte resepte:

Resep: Lepel-frikkadelle in drie korsies met pruimtamatiesous

Foto: Kokkedoor 2

Foto: Kokkedoor 2

Die aanbieding van happies is so belangrik soos die smaak en deesdae word kleinkos skeppend voorgesit in al wat lepel, bakkie of glasie is. Hier woon frikkadelle die partytjie op ʼn lepel by, geklee in broodkrummel-, pistachioneut- en papawersaadkorsies.

Bestanddele:

  • 250 ml varkmaalvleis
  • 250 ml lamsmaalvleis
  • 250 ml beesmaalvleis
  • ½ appel, fyngerasper
  • sout en peper na smaak
  • 3 eiers
  • 45 ml fyngekapte kruisement
  • 45 ml pikante rissies (peppadews), fyn opgesny
  • 3 eierwitte geklits
  • 3 snye witbrood, korsies afgesny en gekrummel
  • 80 ml pistachioneute, fyngemaal
  • 80 ml papawersaadolie vir diepbraai

Metode:

Plaas die drie verskillende soorte vleis in drie ver­skillende houers en voeg die volgende by elk:

  • vark: gerasperde appel, sout en peper, 1 eier;
  • lam: kruisement, sout en peper, 1 eier; en
  • bees: pikante rissies, sout en peper, 1 eier.
  1. Meng die bestanddele goed saam en vorm baie klein frikkadelletjies van elke mengsel.
  2. Rol die vark eers in eierwit en dan in die broodkrummels.
  3. Rol die lam eers in eierwit en dan in die fyngemaalde pistachioneute.
  4. Rol die bees eers in eierwit en dan in die papawersaad.
  5. Diepbraai die frikkadelle 1 minuut lank en dreineer op kombuispapier.

Tamatiesous:

  • 8 pruimtamaties, gehalveer
  • 20 ml balsemiekasyn
  • 50 ml olyfolie
  • sout en peper na smaak
  • 1 ui, fyngekap
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 30 ml bruinsuiker

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 ̊C.
  2. Plaas die tamaties op ’n bakplaat, besprinkel dit met die asyn en 30 ml van die olyfolie, geur met sout en peper en bak 40 minute in die voorverhitte oond.
  3. Braai die ui en knoffel in die res van die olie tot sag. Plaas dit dan saam met die tamaties in ’n voedselverwerker en blits vinnig tot ’n growwe tekstuur verkry word.
  4. Plaas die mengsel terug in die pan en roer die bruinsuiker by. Geur met nog sout en peper indien nodig.
  5. Skep ’n bietjie tamatiesous in individuele Chinese lepels en plaas een van elke soort frikkadel bo-op.

 Bron: Kokkedoor 2 – Versamelresepte saamgestel deur Errieda du Toit.
Uitgewer: Human & Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

David Jacobs ·

Mag ek die resepte wat gepubliseer is ‘n kopie van maak en in my resepteboek bêre. Ek merk dat jy dit nie kan “copy” en “paste” nie. Kan u verduidelik asseblief?

Sune van Heerden ·

Dagsê David

Dankie vir jou navraag! Jy is welkom om van die resepte in jou persoonlike resepteboek te liasseer.

Ons moes ongelukkig die funksie wat mens toelaat om teks op die webwerf te kopieer of dat iemand kan regsklik en dan die dokument te kan uitdruk, deaktiveer, aangesien sommige webwerwe ons inligting onregmatig gebruik het.

Maak gerus óf ʼn skermskoot óf klik regs bo op jou webblaaier (“browser”) op die knoppie wat soos drie horisontale lyntjies lyk (op Chrome en Firefox) of ʼn sirkelvormige ratjie (Internet Explorer). Dit maak verdere opsies oop en daar kan jy dan klik “print”. As jy nie ʼn drukker het nie, kan jy die dokument dalk in ʼn .pdf-formaat (elektronies) druk – dan kan jy makliker daarmee werk.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.