Soorte resepte:

Resep: Somer-tortillas met steak & slaai

Somer-tortillas met steak & slaai (Foto: Verskaf)

Die jaar 2018 het aangebreek en Kosblik het ’n effense nuwe baadjie aangetrek. Ek gaan resepte gee wat vir beide ‘in en uit’ ’n kosblik kan gebruik word. Hierdie week maak ek smullekker somer-tortillas met steakrepies en slaaibestanddele wat elke gesinslid self kan vul soos hul verkies. Wees kreatief met nog vulsel-opsies en ’n sous soos ongegeurde jogurt, hummus of guacamole. Gebruik volkoring-tortillas of pitas andersins kan jy een-eier omelette maak vir dié wat gluten vermy. Geniet hierdie tortillas buite onder die koeltebome of selfs langs die swembad.

Resep aangepas uit Kos is op die tafel!

Lewer 6 – 8 porsies

Bestanddele:

  • 30 ml (2 e) vleis-speserymengsel (sien wenk) of gedroogde kruie van jou keuse
  • 30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie
  • 30 ml (2 e) suurlemoensap
  • 500 g steak, oortollige vet verwyder
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 200 g kersietamaties, in kwarte gesny
  • 6-8 groot volkoring-tortillas of -pitabroodjies (of sien wenke)
  • 175 ml ongegeurde jogurt
  • ’n handvol roket- of basiliekruidblare
  • ½ komkommer, met ’n aartappelskiller in dun repe gesny

Metode:

  1. Meng speserymengsel of kruie, olie en suurlemoensap saam. Bedek vleis daarmee en marineer 10-15 minute.
  2. Verhit ’n braaipan oor matige hitte (gebruik ’n AMC 24 cm Chef’s pan). Braai steaks 4-5 minute aan elke kant, tot net goudbruin en gaar na jou smaak – verkieslik nog pienk in die middel. Die dikte van die steaks sal die gaarmaaktyd bepaal, maar moenie die vleis oorgaar maak nie, dan is dit droog. Geur die vleis na smaak terwyl dit braai. Die marinade se olie behoort voldoende te wees vir die braaiproses, maar verhit ’n bietjie ekstra olie, indien nodig.
  3. Skep steaks uit, laat effens afkoel en sny dan die vleis in dun repies.
  4. Plaas intussen die tamaties met enige oorblywende marinade in die warm pan en soteer 1-2 minute. Skep uit en hou eenkant.
  5. Verhit tortillas vinnig oor matige hitte in ’n skoon, warm pan, sonder enige olie. Moenie meer as ’n minuut per kant verhit nie – anders word dit te hard om te rol. Of maak pitas ook so in ’n pan warm.
  6. Skep van die jogurt op elke tortilla en plaas roket- of basiliekruidblare, vleisrepies, komkommer en tamaties in die middel van elke tortilla.
  7. Vou die tortilla toe oor die vulsel om ’n pakkie of rolletjie te vorm en steek met ’n tandestokkie vas as dit nodig is. Die tortilla kan ook in ’n keël gevou en so gevul word. Moenie te veel vulsel inskep nie, anders peul dit net uit of kan die tortilla skeur.

 

Wenke

  1. Maak jou eie veelsydige speserymengsel deur 15 ml (1 e) gemaalde komyn, 15 ml (1 e) gemaalde koljander, 15 ml (1 e) paprika, 30 ml (2 e) gedroogde gemengde kruie en 15 ml (1 e) gedroogde tiemie saam te meng. Hou dit in ’n lugdigte houer en gebruik vir ander vleis-, hoender- of groentegeregte.
  2. Oorskiet-braaivleis of skaapboud sal net so lekker wees in hierdie tortilla-pakkies.
  3. Gebruik guacamole of hummus as deel van die vulsel vir ’n lekker afwisseling.
  4. Indien jy nie van tortillas of pitabroodjies hou nie, kan jy ’n een-eier-omelet maak as alternatief: (http://heleenmeyer.co.za/2017/10/20/een-eier-omelet/)
  5. Vegetariese variasie: Vervang die gaar vleis met enige kaas en selfs nog slaaibestanddele van jou keuse. Of gebruik lensies of bone in plaas van vleis.

Kyk Maandae-oggende na #Kosblik op Die Groot Ontbyt, kykNet kanaal 144 vir nog lekker maklike en gesonde resepte. Volg Heleen op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood en besoek gerus haar webwerf, www.heleenmeyer.co.za vir nog smullekker idees. Haar resepteboek, Maak vyf is ook op Maroela se e-winkel https://maroelawinkel.co.za/ beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.