Wat maak ʼn trekker ver in die veld as hy saans sy kos moet gaar maak? Volgens Karin Stofberg van die Voortrekkers se Dagbestuur eet hulle Dassiepot. Gelukkig is dit nie al nie, want Voortrekker-mense kán kook. Dis juis daarom dat die Voortrekkers vanjaar ʼn kookboek gaan uitgee.
Voortrekkers Kook sal begin Augustus beskikbaar wees en vier 85 jaar se koskultuur met resepte wat uit ervare kampkokke se kookboeke versamel is.
“In die Voortrekkers is daar baie ‘kos-tannies’. Dis tannies wat al jare lank op Vootrekkerkampe kook. Met die viering van die Voortrekkers se 85ste bestaansjaar, het ons besluit om ʼn kookboek aan dié tannies op te dra. Die kookboek is eintlik ʼn samestelling van resepte van legendes in die Voortrekkers,” sê Karin.
Die boek bestaan uit drie afdelings:
Spankos
Kos wat op kampe om die kampvuur gemaak kan word, soos stokbrood en roosterkoek. Daar is ook in hierdie afdeling veldkos-resepte. Karin sê dis vir Voortrekkers wat vir ʼn paar dae moet oorleef in die bos. ʼn Resep wat in hierdie afdeling gevind kan word, is Dassiepot. ʼn Mens moet beslis baie honger wees voor jy dié resep maak.
Kampkos
Dié resepte is grootmaat-kos wat uitgewerk is vir ongeveer 100 mense. Karin sê dis ook kos waarvan kinders sal hou.
Feeskos
Ons hou veral van hierdie afdeling, want hier sal jy tert- en koekresepte kry – nageregte soos net die Vootrekker-tannies kan optower.
Voortrekkers Kook sal in Augustus teen R180 by die Voortrekkers se hoofkantoor in Pretoria beskikbaar wees, asook by die Voortrekkers se aanlynwinkel. As jy ʼn bestelling voor einde Julie plaas, kos die boek net R150. Besoek die webwerf vir meer besonderhede.
Lekker stok brood………….met egte regte boerewors ………heerlik