Soorte resepte:

Vyf nuttige wenke vir jou graadeen se kosblik

’n Voorbeeld van die ideale kosblikkie wat vir optimale voeding saamgestel is. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Min dinge kry ’n graadeentjie so goed deur sy eerste paar dae van skool as die opwinding oor wat in sy kosblikkie is. Daarom is dit belangrik om vooraf te beplan, veral vir die eerste paar dae van die jaar. Daar is egter ’n paar items wat jy eerder nie vir jou kind moet inpak nie.

Marnelda de Beer, onderwysspesialis aan die Skoleondersteuningsentrum se Afrikaanse Grondslagfase-vereniging (AGV), verskaf ’n paar wenke vir wanneer ouers ’n kosblik pak:

  1. Onthou tasse staan buite in die son

Dit is belangrik om te onthou dat tasse lank in die son buite die klas staan en daarom moet daar liefs nie hoender of geprosesseerde vleis ingepak word nie. “Dit is uiters gevaarlik om hierdie items in kosblikke te sit en jou kind kan ernstig siek word daarvan.”

  1. Moenie gaskoeldrank inpak nie

Gaskoeldrank is nie net baie ongesond nie, maar is ook ’n juffrou se grootste nagmerrie. Male sonder tal het die blikkie of bottel so geskud in die tas dat dit ontplof en ’n verskriklike gemors veroorsaak. Loop maar net op ’n skool se stoep en jy sal beslis ’n omgekeerde tas êrens sien, omring deur nat, taai skoolboeke wat in die son moet uitdroog nadat koeldrank in die tas uitgeloop het.

  1. Vermy teveel lekkergoed

Baie skole is deesdae streng oor wanneer en hoeveel lekkers ingepak mag word. Ouers dink dit is die kleursel in die lekkers wat kinders hiperaktief maak, maar in baie gevalle is die groot hoeveelheid suiker ook ’n probleem. Die suiker veroorsaak dat kinders se bloedsuiker styg en later weer skielik val. Gevolglik is die kleinspan moeg en uitgeput en kan nie veel werk gedoen kry nie.

  1. Pak water in

Januarie is gewoonlik baie warm en kinders moet baie water inneem om te verhoed dat hulle dehidreer. Maak gerus ’n 500 ml-bottel vol water en stuur dit saam skool toe. Indien jy dit wil vries, sit dit in ’n plastieksakkie sodat dit nie die skoolboeke laat nat word wanneer dit begin ontdooi nie.

  1. Die kosblik moet apart van die tas wees

Indien ouers dit kan bekostig is dit altyd goed om ’n koelhouer te gebruik wat die kind apart kan saamvat skool toe. Dit hou die kos lekker koel en verseker dat die skoolboeke nie met kos en koeldrank besmeer word nie. Kry ook ’n kosblik met aparte afskortings. Geen kind hou daarvan as sy toebroodjie deur ’n appel platgedruk word nie.

Die belangrikste is egter om te onthou ’n graadeen se kosblik en tas is sy sekuriteit. Dit is die enigste bekende ding wat hy in die vreemde skool saam met hom het. Daarom is dit belangrik om ʼn bietjie tyd af te staan om die inhoud te beplan. Moenie vir jou kind iets inpak wat hy/sy gewoonlik nie eet nie. “As jou kind nie by die huis grondboontjiebotter eet nie, gaan hy dit nie by die skool eet nie en dan eet daardie kind die hele dag niks,” sê De Beer.

Hier is ’n paar idees vir toebroodjies. Onthou net om altyd kossoorte te gebruik waarvan jou kind hou. As hy nie bruinbrood tuis eet nie, sal hy dit ook nie pouse by die skool eet nie.

  • Marmite en kaas
  • Tamatie en mayonaise
  • Komkommer, kaas en wortel
  • Roomkaas en komkommer
  • Avokado, tamatie en blaarslaai
  • Piesang, heuning (stroop) en kaneel
  • Roosterbrood met kaas en bloubessiekonfyt
  • Basieliekruidpesto, kaas en tamatie
  • Geblikte spaghetti en tamatiesous met kaas

Laastens is dit belangrik dat jy reeds die onderwyser op die eerste dag van skool in kennis stel indien jou kind allergies is vir iets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Net n ma ·

Wonderlike idees ek sal dalk self bv die eier afdop di kleintjies sal een groot gemors veroorsaak met n onafgedopte eier

Veer ·

Net ‘n ma : Ek het dadelik die eier raakgesien en gedink, hoekom is hy nie afgedop nie.

Zettie ·

Ek is ñ ma en gko my geen kind hou van ñ eierkosblik nie. Almal ruik dit as jy daai kosblik oopmaak.
Moet ook liefs nie iets op die toebroodjies sit wat kan uitloop op die kind se klere nie ( spaghetti en tamatiesous?).
Pak ñ koelpakkie in wat jy ornag gevries het, dan hou dit als koel.
Pak ook ñ klein pakkie wetwipes in vir ingeval.
Gebruik ñ sleutelhouer met ñ knip en maak sommer so die lunchsakkie aan die tas vas sodat dit nie verloor nie.
In plaas van brood, wissel af met wraps of volgraanrolletjies om dinge pret te hou.
Rosyntjies en cranberries is ñ lekker peuselhappie in plaas van lekkers.
Sny die appel vooraf, al rondom die cork en maak aanmekar vas met ñ rekkie sodat dit nie verbruin nie. Dit help baie vir die haasbekkies.

Toevallig ·

Lyk my almal het ‘n eiertjie te lê oor die kosblik se inhoud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.