Soorte resepte:

Waar is die basiese bestanddeel – voeding?

Chris-de-Beer-voeding-in-sport

Chris de Beer beskou voeding as een van die belangrikste elemente in ‘n sportpersoon se roetine. Foto: Verskaf.

Chris de Beer

Die internasionale rugbykonferensie op 23 Julie in Pretoria was ʼn skitterende idee van Tuks Rugby en TROK (Tuks Rugby Ondersteunersklub).

Henry Windell was soos altyd ʼn goeie en interessante voorsitter. Naas Botha se bekendstelling van sy nuwe boek, Kreatiewe Rugby, wat hy as openingstema gebruik het, was vir my ʼn eye opener – dit lyk of die rugbymense in Suid-Afrika eindelik ook begin belangstel in sportmanne se breinfunksie! John Mitchell – voormalige All Black-speler en -afrigter (ook van die Leeus in ʼn stadium) – se praatjie oor spandinamika het stof tot nadenke verskaf. Neil Powell, self ʼn Springbok en afrigter van die sewesrugbyspan, se bydrae het my laat besef dat die kultuur anders is as dié van 15-man-spanne.  Johan Ackerman (Akkies) se aanbieding was baie prakties en basies.

Maar hier is my probleem: Niemand noem eens in hul ontledings dat voeding enige rol speel nie. Ek het gehoop dat die belangrike rol van voeding wel later in die program aandag sal geniet. Maar Ivan van Rooyen, die kondisioneringsman van die Leeus, het ook niks gesê oor hoe, wat en wanneer die Leeus eet en drink nie. Net voor hom het dr. Costa Kapnias gepraat oor die “Ready Room” – maar weereens, geen verwysing na voeding nie.

Dit waarvoor ek as spesialis in genetiese voedingkundige gekom het, sou Niki de Villiers van die HPC Tuks darem seker aanspreek! Maar soos baie ander “sport-dieetkundiges” van Suid-Afrika mis sy toe ook die bus. Vraag: Hoe kan elke speler in ʼn span dieselfde genetiese metaboliese samestelling hê? Rugbyspelers is nie robotte nie. ʼn Speler wat isotoniese hiperintoleransie (allergieë) het, kan onmoontlik eet soos wat sy “gebalanseerd” noem.

Die verskil tussen wen en verloor is in baie gevalle net dit: Spelers hardloop letterlik uit energie uit. Hoe, dink enige van daardie sprekers, funksioneer enigiemand maksimaal?

Ek het al talle sportseminare in Suid-Afrika bygewoon; en elke keer is dit net weer dieselfde storie.  Die heel belangrikste aspek word nie eens aangeraak nie: Altesaam 20% van spelers se beserings kan volgens my navorsing vir my doktorale tesis toegeskryf word aan voedingstekorte, asook 30% van swak resultate. Die ontwikkeling van enige sportman of -vrou kan in geen omstandighede optimaal geskied sonder korrekte individuele diëte nie. Net soos wat daar ʼn spelplan opgestel en ʼn tegniese ontleding van die spel gedoen word, moet daar ʼn plan wees vir elke individuele speler se eetpatroon. Wat vir die een werk, werk nie noodwendig vir ʼn ander nie.

Suid-Afrika is die enigste land ter wêreld wat nog veralgemeen as dit kom by sportdiëte. Geen twee mense of spelers is geneties dieselfde nie. Die vleuel wat 80 kg weeg met die geweldig vinnig-trekkende wit spiervesel-samestelling kan logies nie dieselfde eet as die stut van 110 kg wat dalk 10% minder wit spiervesel het en daarby nog allerhande kosallergieë nie. ʼn Speler van die A-bloedgroep se bloed bevat baie swakker verteringsensieme as dié van een in die bloedgroep O-negatief, wat baie sterk verteringsensieme bevat. Die speler uit die A-bloedgroep sal 60/40 sy energie uit koolhidrate verkry, en stoor energie 8-12 uur vooraf. Die speler uit die bloedgroep O-negatief moet aminosure of proteïen inneem net 2-4 uur voor ʼn wedstryd om optimale energie te verkry.

My stellings is nie slegs gegrond op my eie navorsing oor die afgelope 20 jaar nie, maar word reeds vir dekades in ander lande toegepas.

Waarom stel ons dit nie onverwyld in werking nie – en wen in die proses (saam met al die wonderlike dinge wat op die konferensie bespreek is) die Wêreldbeker nie?

  • Chris het ‘n MSc (Voeding) en is ‘n voormalige Springbokatleet en Noord-Transvaal-rugbyspeler. Vir meer inligting besoek sy webwerf by www.quantumlogic.co.za
  • Lees al ons rugbynuus op Pale Toe!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Mediese spesialis ·

Het nou net besef dat my mediese opleiding van 12 jaar en praktykvoering van 35 jaar heeltemal onvoldoende was, want hier word ek in ‘n Maroela nuusberig geleer dat daar iets soos “sterk” en “swak” verteringsensiemes is wat bowenal nogal aan bloedgroepe gekoppel is! Moes die verkeerde mediese handboeke gebruik het!

Kosie ·

Hoe verlig is ek en ‘n spul oud kollegas om te sien dat ons nie die enigste piete en pietinne is wat klaarblyklik verkeerde handboeke en opleiding ontvang het nie.
Ons is ook nie oor “sterk” en “swak” ensiemes ingelig nie.
Om nie eers van die koppeling met verskillende bloedgroepe te praat nie!!!

Marnus Roothman ·

Chris is die heel voorste sport- en gesondheidsvoedingkundige in die land; en mense van heinde en ver vind baat by sy kennis van en navorsing oor genetiese bloedgroep gebaseerde eetplanne en aanvullings. Sy aanhang is so wyd dat hoewel sy praktyk in Pretoria soos n byenes lyk, hy elke twee maande vir ‘n paar dae na Kaapstad, Port Elizabeth en Durban moet vlieg vir afsprake wat mense maande voor die tyd maak om met hom te kan konsulteer en deur hom getoets te word. Ek is self een van sy suksesverhale tov gesondheid en gewigbeheer.

Marnus Roothman ·

Die bewys van die nagereg (voeding ) is in die eet daarvan (proof of the pudding) – doelbewuste woordspeling. Mediese Spesialis en Kosie se kommentare onderskryf maar net Chris se stelling dat Suid-Afrika dekades agter die tyd is ten opsigte van individuele voedingsbehoeftes – veral ook wanneer dit kom by die voedingsbehoeftes van individuele sportmanne en -vroue.

Kosie ·

Medies Spesialis. Dankie vir ‘n kort maar kragtige toeligting wat hopelik nie op dowe ore te lande sal kom nie..
Ter aansluiting by u slotsin. Mag die arme mense wat so spook om hul koppe in die byenes te steek, eerder ‘n bietjie selfstudie en wilskrag aanwend om van die oortollige kilo’s ontslae te raak.

Mediese Spesialis ·

Marnus,
Ek het kommentaar gelewer op jou laaste opmerkings maar dit het blykbaar verlore geraak. Ek probeer weer – hopelik meer ewewigtig.
Eerstens. Ek het nie kommentaar gelewer oor die geldigheid van Chris se dieet en voedingsplanne nie.
Waarmee ek wel ‘n probleem het is sy aannames en korrelasies tussen onverwante fisiologies en immunologiese liggaamsprosesse aand die een kant en die spysverteringsstelsel aan die anderkant.
Chris is ‘n voedingskundige en nie ‘n fisioloog of medikus nie en dit blyk duidelik uit sy gebrek aan insig in en feitlik foutiewe stellings oor bv. bloedgroepering, wat nog te se oor woorde soos isotoniese hiperintolleransie [letterlik vertaal: soortgelyke(iso)-spanning(tensie) – erge(hiper)- overdraagsaamheid(tolleransie)as alternatief vir allergiee. Dis mos bog man! Waar krap hy hierdie konsepte uit – sekerlik nie uit erkende mediese joernale of boeke nie.
Hy sal hom ‘n groot guns bewys as hy eers by ‘n Hematoloog (wat die eintlike ontdekkers en noodwendig kenners van bloedgroepe en weefsel tipering is) gaan kers opsteek, en ophou om ‘n regstreekse verband te probeer trek tussen twee totaal onverwante prosesse. Die redenasie is dieselfde as om te se dat iemand se persoonlikheid gaan verander na ‘n hartoorplanting agv van die “nuwe” hart.
Tweedens. Die feit dat hy ‘n stem roepende in die woestyn is mbt sy opvattings beteken nie noodwendig dat hy ‘n profeet is nie. Sy ewekniee luister dalk nie na hom nie bloot omdat sy teoriee nie water hou nie.
Derdens. Die feit dat baie mense in hom “glo” en na hom toe gaan vir “behadeling”, en dalk baat vind nie, beteken nie dat hy noodwendig reg is nie.
Laastens. Die meeste mense wat noodwendig by hom opeindig sal oor die algemeen swak voedingsgewoontes gehad het en sal duidelik wel baat vind by ‘n gesonder lewenstyl en eetgewoontes. Hulle kon dit met bietjie oplees en wilskrag self gedoen het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.