Soorte resepte:

Waarom veganisme al meer wortelskiet

(Argieffoto: Pixabay)

Veganisme beleef ʼn bloeitydperk. Die saadjie vir dié uitkyk is eeue gelede reeds deur vegetariërs geplant, maar die meer radikale vorm daarvan – bekend as veganisme – het sowat ʼn dekade gelede ontkiem en raak nou al meer algemeen.

Toenemend meer winkels hou “vegan”-produkte aan, restaurante bied “vegan”-opsies op hul spyskaarte en daar bestaan selfs eksklusief “vegan”-eetplekke. Is dié kool die sous werd?

Volgens HAT is ʼn vegetariër ʼn persoon wat uitsluitend groente, vrugte, graan en neute eet, en geen voedsel wat deur die doodmaak van diere verkry is nie. Vegetariërs eet dus nie vleis nie, maar dikwels steeds eiers en kaas, drink melk en gebruik diereprodukte. ʼn Veganis neem ʼn tree verder deur geen voedsel, klere of enige ander produk te gebruik wat van diere verkry is nie.

Die Britse Veganisme-vereniging beklemtoon dat veganisme nie net ʼn dieet is nie, maar ʼn lewenstyl. Dit beskryf ʼn lewensfilosofie wat alle vorme van uitbuiting van en wreedheid teenoor diere uitsluit, hetsy vir voedsel, klere, grimering of enige ander gebruik.

Dit bevorder ook die ontwikkeling en gebruik van nie-dierlike alternatiewe vir menslike gebruik. In die dieet behels dit om afstand te doen van alle produkte wat in geheel of gedeeltelik van diere afkomstig is.

Uit etiese oortuiging sal veganiste nie skoonheidsmiddels gebruik wat diereprodukte bevat nie. (Argieffoto: Pixabay.com)

Etiese en omgewingskwessies

Etiese vraagstukke is ʼn belangrike bousteen van die veganisme-filosofie. Die Suid-Afrikaanse veganisme-vereniging verduidelik dat elke hamburger, elke liter melk, elke eier, leergordel, sirkusdier en smeersel oogpotlood wat ʼn mens gebruik net aan ons beskikbaar is “deur die lyding van diere en die heerskappy van die mensdom oor die diereryk”.

Uit etiese oortuiging sal veganiste nie kledingstukke van dierlike oorsprong koop nie of skoonheidsmiddels gebruik wat diereprodukte bevat nie. Hulle vermy ook sekere entstowwe soos die griepentstof omdat dit in hoendereiers gekweek word.

Veganiste glo hierdie produkte veroorsaak diere se lyding en voortydige dood.

Veganiste fokus ook op bewaring en verwerp die gebruik van diereprodukte op die veronderstelling dat visvang, jag, boerdery en veral fabriekboerdery, nie volhoubaar vir die omgewing is nie.

Een van die sterkste argumente wat veganiste gebruik kom van ʼn studie deur die VN, wat bevind het dat veeboerdery die derde grootste bydraer tot kweekhuisgasse is, meer as die wêreld se vervoerstelsels. Bemesting dra ook volgens die VN tot ʼn groot mate tot aardverwarming by. Hulle sê verder dat die massas diere wat vir menslike gebruik geteel word, gevaarligte vir die aarde se biodiversiteit laat flikker, omdat dit natuurlike die habitat waar wild moet floreer, in beslag neem.

Bonsmara-beeste (argieffoto) (Foto: Hartebeestloop)

Maar hoe lyk situasie in SA?

Hoewel die VN se statistieke wel van toepassing is op wêreldwye boerdery, lyk die prentjie plaaslik ietwat anders.

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), ʼn organisasie wat as mondstuk vir Suid-Afrika se kommersiële rooivleisprodusente optree, sê dat veeboerdery in Suid-Afrika in werklikheid ʼn negatiewe koolstofvoetspoor het, danksy sekwestrering.

“Elders ter wêreld word veevoer gebruik, wat veroorsaak dat diere meer koolstofgasse uitskei,” sê Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die RPO. “In Suid-Afrika leef die meeste beeste, skape en bokke van die natuurlike veld. Die binding wat die natuurlike hulpbronne tot gevolg het, is baie meer voordelig in terme van kweekhuisgasse.”

Hy verduidelik dat 70 tot 80% van alle produktiewe grond in Suid-Afrika net vir veeboerdery aangewend kan word – dit is nie geskik om op te plant nie. Na sy mening is rooivleis se koolstofvoetspoor buitendien gram vir gram proteïen minder as dié van groente.

“As ʼn mens in ag neem dat daar kunsmis vir groenteproduksie gebruik word, asook diesel en masjinerie, moet jy besef dat groenteboerdery ook die vlak van kweekhuisgasse verhoog. Om dieselfde hoeveelheid proteïen wat in rooivleis te vinde is uit groente te kry, moet daar baie meer groente geproduseer word, wat ʼn baie groot koolstofspoor sal laat,” sê Schutte.

Die RPO werk saam met dierebeskermingsorganisasies soos die DBV om kodes vir beste praktyke saam te stel en aan lede beskikbaar te stel. “Dit is tot boere se voordeel om die riglyne wat ons daarstel te volg. Ons bly op die hoogte van die jongste navorsing oor dierewelsyn en omgewingsbewaring en kommunikeer dit deur middel van inligtingsessies, nuusbriewe, ons tydskrif en besoeke aan boere.”

Wanneer daar klagtes uit die gemeenskap kom, hanteer die RPO dit met die nodige erns en in samewerking met ander organisasies.

(Argieffoto: Pixabay.com)

Gesondheid uit die grond uit?

Die Wêreldgesondheidsorganisasie is een van verskeie internasionale organisasies wat ʼn vegan-dieet goedkeur. ʼn Voordeel wat gereeld voorgehou word, is dat veganisme ʼn mens aanmoedig om meer krities oor voedsel te wees en meer ingeligte besluite te neem oor wat jy eet en nie eet nie.

Die Suid-Afrikaanse vegan-vereniging sê dat ʼn gebalanseerde vegan-dieet al die proteïen, kalsium, yster en jodium bevat wat ons liggame nodig het. Vitamien B12, waarvan daar vroeër geglo is dat dit net in dierebronne te vinde is, is deesdae ook as aanvulling beskikbaar en deel van vegan-produkte soos sojamelk. Selfs omega 3 en 6, wat tradisioneel in vis voorkom, kan deur alge, lynsaad, kanola en hennepsaad verkry word.

Is ʼn vegan-dieet dan gesonder as een met diereprodukte? Veganisme blyk voordele in te hou vir die gesondheid, insluitend ʼn verlaagde risiko van tipe 2-diabetes, hoë bloeddruk, vetsug en hartsiektes.

Dieetkundige René Janse van Vuuren verduidelik dat baie van die gesondheidsvoordele te danke is aan die feit dat plantaardige proteïen laer in versadigde vette is. “ʼn Vegan-dieet kan daarom beslis gesonder wees, maar ook ongesonder, aangesien maaltydsamestelling, gaarmaakmetodes en voedselkeuse ʼn groot rol in ʼn gesonde leefstyl speel,” sê sy.

Sy glo veganiste kan ʼn baie gesonde leefstyl handhaaf indien hul eetpatroon noukeurig beplan en gemoniteer word. “Daar is genoeg alternatiewe opsies vir veganiste om ʼn gesonde leefstyl te handhaaf en al die vitamiene wat hulle nodig het in te kry. Goeie alternatiewe vir proteïen, yster, sink, kalsium en vitamien B12 is bone, neute, sojaprodukte, gefortifiseerde graan, spinasie, lensies, droëvrugte, volgraanbrood, molasse en erte.”

Janse van Rensburg sê dat ʼn gebalanseerde eetpatroon die nodigheid vir aanvullings uitskakel. Swanger veganiste word tog aangeraai om aanvullings van vitamien B12, sink, kalsium en vitamien D te gebruik.

Die Oh My Soul Café in Durban-Noord bied alles van “hamburgers” tot heerlike gebak – alles 100% vegan-vriendelik. (Foto: Facebook via @OhMySoulCafe)

Die wilsbesluit vir veganisme

Vir Gavin Maree, ʼn ingenieur wat in Oktober verlede jaar besluit het om ʼn veganis te word, was al drie dryfvere agter veganisme – die etiese, omgewings- en gesondheidskwessies – oortuigend.

“Daar is heelwat navorsing wat op die gesondheidsvoordele dui, maar die negatiewe impak wat vleisboerdery op die omgewing uitoefen het my ook laat besluit om vleis uit te sny. ʼn Vegan-leefstyl verlaag jou omgewingsvoetspoor aansienlik en help om ʼn volhoubare toekoms vir die planeet te verseker. Die onmenslike behandeling van diere in die voedselproduksieproses het ook my besluit om veganisme te probeer, vergemaklik,” sê hy.

Maree gee toe dat die ondersteuning van familie en vriende die oorskakeling na ʼn vegan-leefstyl baie makliker maak. “Ons dink saam aan nuwe disse en is altyd op die uitkyk vir restaurante wat spesiale maaltye aanbied.”

Dis ook nie meer moeilik om alternatiewe vegan-bestanddele by gewone supermarkte te kry nie, aangesien dit ʼn groeiende mark is.

Wat sy gesondheid betref voel Maree dat sy energievlakke hoër en meer stabiel is vandat hy diereprodukte uitgesny het. Hy voel ook ligter en ervaar minder moegheid deur die dag. “Met die regte maaltydbeplanning kry ek al die voedingswaarde wat ek nodig het. Ek het ʼn paar vegan-kookboeke wat etes ook sommer maklik en interessant maak.”

Vir Maree was die grootste en moeilikste aanpassing van ʼn vegan-leefstyl om weg van die huis af te eet, aangesien min restaurante – veral buite die stede – vir veganiste voorsiening maak. “Om vegan-geregte tuis voor te berei is ewe maklik as voorheen – vir my is dit eintlik meer smaaklik en kreatief. Toe ek begin het om met vars bestanddele, kruie en speserye te kook, het etes weer interessant en opwindend geword.”

Wanneer almal in jou vriendekring nie veganiste is nie, is geleenthede soos verjaardae en naweekkuiers soms problematies, met vleis, brood en koek in oorvloed. Maree sê dat hy ʼn punt daarvan maak om vooraf vir mense van sy vegan-voorkeure te laat weet. “Mense het gewoonlik baie begrip daarvoor as ek dit mooi verduidelik. Dit verg net beplanning.”

Uit haar ervaring met veganiste is Janse van Rensburg se raad dat hulle hul gevegte reg moet kies – daar sal altyd skeptici wees. “Veganisme is ʼn groot kopskuif om te maak, maar indien keurige oorweging aan die dag gelê word, is dit volhoubaar. As veganis is jy onvermydelik baie beperk met voedselopsies, so geniet jou kos en maak dit geurig en kleurvol!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Rene ·

Ek is al 8 maande n veganis. Voel beter, eet lekkerder, ek oefen harder en my vel het nog nooit beter gelyk nie.
Ek kry al my proteïene deur plante in en eet baie gebalanseerd.
Ek is baie lief vir diere en ek verkies om nie deel te wees van die massa onderneming wat hulle op ondenkbare maniere uitbuit nie.

Juan Olivier ·

Ek was 4+ jaar ʼn vegetariër maar het van die wae af geval. Maar beplan weer om een te word met sulke kos soorte wat baie meer beskikbaar raak.

@Rene ·

Ek wens ek kon so skuif maak soos jy. Dis maar vir my ‘n moeilike ene maar ek probeer so elke nou en dan. Ook vir die rede van absolute weedheid alleen.

Anoniem ·

Ha ha! Ja nee, hoe lus kry ek nou vir lekker braai vleis. Ook niks so lekker soos Sondag se gebraaide boud nie.
Veganisme het al ‘n soort geloof (religion) geword.

Boer-in-die-Wind ·

Terloops, verskeie hofsake en skuldig bevinding in verskeie lande van ouers vir oa “child abuse” agv van onder- en wanvoeding van kindertjies.

Zanne ·

En hoeveel van mense wat ‘normaal’ eet? Mal mense is mal, maak nie saak wat hulle eet nie. Om diere te vermoor het niks daarmee te doen nie.

Gerti ·

My grootouers (al 4) het doerrie jare besluit om vegetariërs te word – toe my ouers nog klein of selfs ongebore was. My ouers het in daardie leefstyl grootgeword, en nodeloos om te sê, ons kinders ook. Dit is vir my ouers ondenkbaar om vleis te eet.
Ek (en my broers en susters) het egter mettertyd die een na die ander begin om vleis in te sluit by ons dieet. Ek moet sê dit het my gesondheid/welstand baie goed gedoen. Daai berugte vegetariër-soettand? Weg. Meer energie, uithouvermoë, siekteweerstand, minder sukkel met bloedsuiker… As ek na my ouers kyk en hulle vriende van hulle portuur, dan is my ouers loshande die ongesondste.
Ek hou nog steeds van my groente (gaar en rou) en vrugte, moenie ‘n fout maak nie. Kan ook nie daarsonder nie weens vitamiene, vesel, ens. Maar die stukkie vleis af en toe is onontbeerlik.

Hans H ·

Jammer, maar moderne boerderymetodes (om daardie vegan plante te produseer) veroorsaak die dood van ontelbare insekte, reptiele en kleiner soogdiere – “plaagbestryding” en habitatversteuring. Spuit jy nie gif nie, gaan jy ook jou kwota insek-eiers/larwes/volwassenes, slakkies ens. inkry… Selfde met daai bees wat “net gras vreet” maar op natuurlike weiding – sy kan dit immers nog minder afspoel.

Maar dis seker belangrik om voorbeeldiger en heiliger en “inner” as die res ten minste te voel…

Lord Oom Piet ·

Wat van die arme kieme, bakterieë en virusse wat in hul miljarde vermoor word om ook julle aan die lewe te hou? Het hulle nie ook reg op lewe nie?

Lord Oom Piet ·

Hans H, jou laaste stelling openbaar ongelukkig vegans se ingesteldheid wat baie mense afsit.

In my ervaring met vegans blyk dit hulle is oortuig hulle het n hoër astrale plein van Verligting bereik en is beter wesens as ons üntermenschen wat as sulks op neergesien moet word.

Die mens se skerp oogtande o.a. toon dat ons millenia lank al vleiseters was waarsonder ons nooit die intellektuele, sosiale en tognologiese ontwikkeling kon deurgaan het om n punt te bereik om dit te ontken nie.

Juan Olivier ·

Jy is besig met ʼn “strawman” argument soos die Engelse dit noem. Die argument is nie dat niks skade aangedoen word as mens nie vleis eet nie, net dat baie minder skade gedoen word om nie vleis te eet nie.

Danie ·

‘n Nee. Hoe meer navorsing (en hoe beter die toets instrumente word) hulle doen in verband met plante hoe meer lyk dit of daar ‘n soort van basies intelligensie (oorlewing) by plante is. Plante reageer in die vorm van van chemiese stowwe wat hulle afskei. Ander plante “neem” dit waar en reageer ook daarop. Plantsap (na skade aangerig is) is maar basies dieselfde as bloed wat uitloop om die wonde te bedek.

Blykbaar is die enigste toets vir lewe of iets oë, ore en pote het, ‘n geluid kan maak wanneer dit seer kry of kan veg vlug.

Dalena ·

Ek is al vir 22 jaar ‘n vegan. Ek slaap saans rustig, want ek weet ek het geen aandeel aan die marteling van diere as hulle geslag word nie. Ek is baie gesond, en is vir baie, baie jare nie siek nie. Dit is nie ‘n geloof nie, dit is ‘n leefstyl!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.