Soorte resepte:

Wat jy moet weet oor olyfolie

Die groen plakker dui aan dat die olyfolie aan standaarde voldoen (Foto: SA Olive)

Olyfolie is ʼn produk wat in byna enige gereg gebruik kan word. Dit maak ʼn lekker slaaisous, jy kan ʼn marinade daarvan maak én dit is maklik om daarmee te bak. Behalwe vir die gesondheidsvoordele van olyfolie bo ander soorte olie, is olyfolie ook ʼn gunsteling oor die unieke smaak.

Maroela Media het met Karien Bezuidenhout, bestuurder van SA Olive, gepraat oor alles wat verbruikers moet weet oor olyfolie.

Wanneer jy olyfolie koop

“Dit is belangrik om te weet dat daar verskillende soorte olyfolie is,” het Bezuidenhout gesê. “Daar is gewone olyfolie en ook olyfolie wat met ander saadolies gemeng is.”

Dan is daar ook die ekstra suiwer (extra virgin) olyfolie, wat die meeste gesondheidsvoordele inhou. “Die ekstra suiwer olyfolie kom teen ʼn hoër prys, maar jy kry die waarde daarvoor in gesondheidsvoordele.”

Wat beteken “ekstra suiwer” nou eintlik?

“Ekstra suiwer olyfolie is die olie wat direk uit die olyf gepers is. Ekstra suiwer olie moet die regte chemiese en smaakwaarde hê. Dit gaan deur ʼn proepaneel wat seker maak daar is geen defekte in die olie nie. SA Olive sit dan ʼn groen plakker op die bottel om te wys dat die olie voldoen aan die standaarde van ʼn ekstra suiwer olyfolie, en dat dit vars is vir die verbruiker om te gebruik.”

Wanneer jy olyfolie proe

Die gewenste smaak van olyfolie hang af van persoonlike voorkeure, meen Bezuidenhout. “ʼn Mens moet definitief die olyfgeure en aromas kry, maar daar is verkillende kategorieë en jy sal hou van die een wat jou persoonlike smaak pas. Delikate olyfolie is die aanvaarbaarste vir meeste mense, terwyl medium olyfolie ʼn sterk aroma en intense olyfolie ʼn bitter smaak vir gewone verbruikers het.”

Om te bepaal of olyfolie wel afgegaan het, is jou neus en mond jou beste maats.

“Wanneer olyfolie afgegaan het, is die eerste rooivlaggie dat dit sleg proe. Dit het dieselfde smaak as neute wat afgegaan het, dit is so ʼn bitter, frank smaak. Die tweede rooivlaggie is die reuk. Olyfolie wat sleg is, sal dieselfde reuk as ou of gemufte vrugte hê.”

Hoe om olyfolie te berg

Die behoorlike berging van olyfolie is baie belangrik, anders gaan jou olie vinnig sleg raak, sê Bezuidenhout. “Olyfolie is sensitief vir lig en vir lug. Stoor dit in ʼn donker glasbottel en hou die bottel styf toegedraai. Wanneer jy ʼn groot bottel olie koop, giet dit eerder oor in ʼn klein botteltjie om só die lug uit te hou,” sê sy.

“Moet ook nie jou olyfolie naby hitte berg nie. Mense gebruik dit gereeld naby die stoof, maar moet dit nie daar berg nie omdat die hitte nie goed is vir die olie nie. Sit dit weg in ʼn donker kas, weg van lig af.”

Olyfolie het ʼn raklewe van 18 tot 24 maande, maar wanneer jy die bottel oopgemaak het, moet jy dit verkieslik binne twee tot drie maande gebruik. Maak ook seker dat die olyfolie die groen plakker op het, om te verseker dit is top-kwaliteit.

Net soos ʼn pannekoek met die beste resep nog steeds kan flop, kan Maroela nie pa (of ma!) staan vir enige van die resepte wat jy self by die huis probeer nie. Elke koppie meel, bakpoeier, melk, eier of enige ander bestanddeel is dus in jou eie hande en Maroela Media kan nie enige verantwoordelikheid aanvaar vir komplimente (of klagtes) oor jou kookvernuf nie. -Red

Deel van: Koolstoof

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

WL ·

Dan is Suid Afrikaanse olyfolie baie intens want dit is vreeslik bitter vir my.

Sarel ·

Suid- afrikaanse olyfolie van die beste en suiwerste in die wereld

Manie ·

Een eetlepel olyf olie n dag (cold press virgen) maak kanker selle onmiddwlik dood. Gaan lees maar op daaroor.

Olyfolie ·

Dankie vir die artikel. Wat ek graag wil weet waar gebruik jy die ekstra virgin en die gewone olyfolie en die cold press. Is daar n verskil tussen hulle of nie. Kan ek bv met almal vleis bak en in slaai gebruik, of sekere olie in sekere disse.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.