Soorte resepte:

Wat maak Willie daar? Hy kook

Lesers kan nou self saam met Wilie Strauss kook op sy nuwe YouTube-kanaal waar hy maandeliks resepte uit sy eie resepteboek voorberei. Foto: Verskaf.

Wat maak die kabaretster en kookboekskrywer Willie Strauss wanneer hy moeg is vir kook? Hy kook!

Strauss wat verlede jaar sy kookboek Daar is ʼn engel in my koskas by Human & Rousseau uitgegee het, het onlangs met ʼn nuwe projek begin: Kookvideo’s op YouTube. En dit gaan ʼn treffer wees. Die eerste episode van Willie Kook! is binne slegs ʼn paar dae meer as ʼn duisend keer gekyk.

“Een van die beste aspekte van kook is die sosiale deel daarvan,” sê Strauss. “Ek is mal daaroor as vriende kom kuier en in my kombuis kom sit terwyl ek iets kook. Ek het al aanvaar dat my vriende veral oor etenstyd kom kuier.”

Strauss sê niks is geselliger as iets lekkers in die pot, wyn in die glas en ure se lag en gesels om sy kombuistafel nie. “Dit is presies hierdie ervaring wat my die idee gegee het om met kookvideo’s op YouTube te begin. Ek wil hê kykers moet in my kombuis kom sit en saam met my ʼn nuwe resep probeer.”

Die kookboek was vir hom die verwesenliking van ʼn droom, maar die video’s neem hom weer terug na waar dit alles begin het: gesellig in die kombuis en sonder enige fieterjasies. So kuier-kuier word die huis gevul met geure en almal eet meer as wat hulle wou.

Vir sy eerste video-resep het hy frikkadelpastei gekies. “Dit bly maar net een van my gunstelinge. Jy moet regtig goed wees om dit te laat flop.” In die tweede aflewering wat hierdie week opgelaai is, maak Strauss pannekoek met stroop, ʼn Suid-Afrikaanse gunsteling.

Strauss het sy liefde vir kook by sy ma op hul plaas in die Noord-Kaap geleer. “Dit was nooit grênd kos nie. Dit was lekker kos wat almal kan maak. Dit is hierdie soort resepte wat ek in my kookboek versamel het en wat ek ook nou in Willie Kook! gaan demonstreer.”

Strauss sê kook is sy terapie. “As ek moeg is, of net ʼn bietjie af voel, dan kook ek. Hoe kan ʼn mens dan neerslagtig wees as die warm reuk van soetkoekies in die lug hang?”

Sy passie vir kosmaak strek verder as ʼn paar bestanddele. “Dit gaan vir my oor die hele ervaring. Onthou jy garagepaarties op skool? Die soet, sagte koek wat in ʼn bierboks gebak is en met tuisgemaakte versiersel bedek is. Die suikersoet van vanieljegeursel en die opwinding van ʼn eerste soen. Dit is mos onlosmaaklik deel van mekaar!

“Ek hoop dat my resepte en stories mense weer sal herinner aan sulke spesiale tye in hulle lewe. Dit is vir my so. Kook ʼn kweper stadig sag vir konfyt en ek voel sommer my ma daar langs my in die kombuis. Elke gereg is ʼn magiese ervaring wat ons van die alledaagse dramas laat vergeet.”

Willie Strauss se resepteboek is ‘n jarelange droom wat bewaarheid is. Foto: Verskaf.

Strauss hoop dat Willie Kook! nog groot hoogtes sal bereik. “Neem my saam kombuis toe op jou selfoon of jou iPad en dan kook ons saam. Ek praat met jou in Afrikaans en ek vloek darem nie soos Gordon Ramsay nie,” sê hy tong-in-die-kies.

Strauss hoop om ten minste een nuwe resep per maand tot sy videokanaal toe te voeg.

“Die Spar in Cullinan is my borg en danksy hulle kan ek my liefde vir kosmaak nou deel met mense reg oor die wêreld – dag of nag!”

Vir meer inligting oor Willie Strauss, sy kookboek en sy produkte besoek Williestrauss.co.za.

  • Luister ook na Maroela Media se onderhoud met Willie Strauss bo-aan hierdie artikel. Hy het vroeër vanjaar in die ateljee kom kuier en met Esté Meyer Jansen gesels oor kookboek sy Daar is ʼn engel in my koskas. Strauss vertel meer oor sy feestelike kos-memoires wat lesers op ʼn reis neem na die nostalgiese plaaslewe van sy Boesmanland-kinderjare van kosmaak sonder enige fieterjasies.

Kyk hier na Strauss se video waar hy heerlike pannekoek met stroop voorberei:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ronel ·

Klink lekker, maar geregte effe vervelig. Wys meer ( veral wat in jou resepte boek is)

Lougie ·

Koop gerus hierdie resepteboek. Daar is heerlike resepte in wat beslis nie vervelig is nie. Willie promote sy resepteboek deur sommige van sy resepte te demonstreer, kom ons ondersteun ons plaaslike talent. Ek geniet sy boek gate uit.

Gerhard ·

Nice artikel, maar verseker was my garagepaarties daai tyd heel anders….ons het nie tyd gehad vir eet nie.

Janine ·

Youtube insetsel is puik. Wou graag die boek as geskenk koop( mooi foto’s, resepte van toeka se dae) ,maar was verbaas hoe duur die boek is( en dis slapband). Hoop dit is binnekort op uitverkoping…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.