Soorte resepte:

Watwou prokureur, ʼn bakker sal sy wees!

Deur: Janie Monsieur

Babette Kourelos (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Al het Babette Kourelos (30) ʼn graad in regte, het sy vroeg besef dat sy eerder in die kombuis hoort as in die hof. Haar liefde vir broodbak het haar vanaf haar ma se kombuis en verkope aan bure gevat na ʼn suksesvolle boetiek-broodbesigheid in die lewendige Maboneng-gebied van Johannesburg.

“Van kleins af het my ma altyd vir my en my sussies in die kombuis saam met haar gehad. Sy het gekook en gebak en ek was mal daaroor om dit saam met haar te doen,” vertel Babette.

Sy was, soos die meeste jong bakkers, eers verlief op koeke, pasteie en koekies bak, maar haar stiefpa het haar later aangemoedig om iets te bak wat meer basies is; iets wat sy elke dag kan eet.

Na ʼn gesoek na die gepaste ding om te bak in al haar en haar ma se resepteboeke het sy eindelik ʼn broodresep opgespoor wat haar belangstelling geprikkel het. “Voor dit het ek nog nooit eintlik brood gebak nie. En ek het net gedink: ‘Sjoe, wat is meer eg, eenvoudig en aards as brood?’”

Vandaar het Babette vurig geraak oor broodbak. Dit was nie net die bak van die brood wat haar aangegryp het nie, maar ook die hele proses; die meng van basiese bestanddele, die deeg tussen haar vingers, kyk hoe die deeg rys en dan uiteindelik om dit te eet en om die brood met mense te deel.

“Ek het elke liewe resep vir brood wat ek in die hande kon kry, uitgetoets. Ek het elke dag brood gebak in my ma se kombuis, soveel so dat my ma later opgehou het om brood vir die huis te koop, omdat daar altyd so baie was.”

Volgens Babette is brood die lekkerste as dit van natuurlik bestanddele gemaak is (Foto: Janie Monsieur/Maorela Meida)

Die bure was mal oor Babette omdat hulle altyd gratis brood gekry het. Babette se ma was ʼn klavieronderwyseres, en haar studente se ouers, wat in die kar buite gesit en wag het vir hul kinders om met hul musieklesse klaar te maak, het later begin staatmaak op Babette se varsgebakte brode. En as daar nie was nie, het hulle gevra hoekom nie.

Nadat Babette haar LLB-graad met vlieënde vaandels voltooi het, het sy besluit om eerder nie te begin werk in die regsveld nie, maar eerder in broodbakkery.

Sy het ʼn drie maande lange vakleerlingskap in die landelike dele van Vermont in die VSA gedoen om te kuns van broodbak te leer. Haar leermeester het op die ouderdom van twaalf in Frankryk die geheime van broodbak geleer en het meer as 60 jaar ervaring daarin.

“Ek wou nie dadelik begin nie. Ek kon dit seker self leer, maar ek wou regtig hê iemand met meer kennis moet my wys hoe om dit perfek te doen,” sê sy.

Babette bied werkswinkels aan om mense te leer om brood te bak (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

In Vermont het Babette geleer hoe om brood op die behoorlike, aardse manier te bak. Sy moes deur die nag werk, omdat hulle 20:30 begin bak het en eers die volgende dag 14:30 klaargemaak het.

“Ek het baie min tyd vir myself gehad en min tyd gehad om te slaap. Die skedule was verskriklik, maar ek het soveel geleer.”

Sy het geleer om die brood in ʼn houtvuuroond te bak, om natuurlike bestanddele te gebruik en om met suurdeeg te werk.

Aangesien haar leermeester baie streng was, het nie een van sy ander studente sy suurdeegresep gekry nie, maar ʼn week nadat hy vir Babette ontmoet het, het hy gesê sy is gereed daarvoor.

Sy het ook vandag haar eie suurdeeg wat sy Maggie noem. Die suurdeeg, wat reeds sowat ses en ʼn half jaar oud is, is vernoem na haar leermeester se meisie, wat vir Babette ʼn vars briesie en ʼn aangename afwisseling van haar streng leermeester in die bakkery was.

Babette Kourelos in haar bakkery in Maboneng (Foto: Datsun SA)

Babette het Babette’s Bread, wat in Maboneng geleë is, ses jaar gelede begin en vandag bak sy tussen 25 en 120 brode per dag. Sy neem persoonlike bestellings en verskaf ook brood aan verskeie restaurante en koffiewinkels.

Sy bied ook broodbakklasse aan by haar werksplek in Maboneng en ook by mense se huise. Sy doen konsultasiewerk vir restaurante en koffiewinkels wat graag hul eie brood wil begin bak.

Babette sê dit is vir haar ʼn seëning om ʼn werk te kan doen waaroor sy werklik passievol is. “Ek het iets gevind wat met my praat en wat regte vervulling in my lewe bring, en dít is brood en om goeie kos met mense te deel.

En van ʼn loopbaan in regte is daar geen sprake vir Babette nie. “Dit hou jou op jou tone, want elke dag is die meel en deeg anders, want elke dag is die weer anders. Ek moet die resep elke dag aanpas –  veral die water, gis en Maggie. Maggie op haar eie is ʼn handvol!” lag sy.

Hoewel Babette al allerhande variasies van brood geëet het, sê sy haar gunsteling manier om brood te eet, is steeds ʼn dik sny varsgebakte brood met goeie gehalte botter op. “Daar is mos eintlike niks beter as dit nie,” sê sy.

Vir meer inligting, besoek Babette’s Bread se webtuiste hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Schalla ·

Ja, niks kom by varsgebakte brood of vetkoek met dik botter op wat lekker smelt nie! Sjoe hoe lus raak ek nou

Spook op thaba ·

Bitter min vrouens kan vandag brood bak en dit is hartseer. My skoonma se brood is eerste klas

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.