Soorte resepte:

[WEN] Buitebioskoop: Wen R1 000 met jou piekniekmandjie

Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

Dis amper weer tyd vir Maroela Media se jaarlikse buitebioskoop. Ons is so opgewonde, ons het reeds aan idees vir piekniekmandjies begin dink. Almal hier by Maroela Media se piekniekmandjies lyk anders, en ons kan net nie saamstem oor wat in die perfekte piekniekmandjie moet kom nie. Ons klop dus by bekendes aan om te hoor hoe hulle perfekte piekniekmandjie sou lyk.

Dit klink of Jakkie Louw gereeld piekniek hou, want hy het sommer dadelik geweet wat in sy piekniekmandjie sal kom: “Ek sal beslis koeksisters, hertzoggies, koue hoenderboudjies, toebroodjies, koeldrank vir die kinders en wyn vir my en my vrou inpak.”

ʼn Man wat van kosmaak weet, Lochner de Kock, se mandjie stel ook nie teleur nie: “Vars brood, regte botter, parmaham, baie wyn, kaas, truffels en ʼn gestopte kalkoen. En ʼn skaapkop en ʼn knipmes!”

Anna Davel moet definitief saam kom piekniek hou, want sy sal boonop goeie musiek kan verskaf! Sy pak die volgende in haar mandjie: “Agurkies, salm en roomkaasbroodjies. Olywe, tzatziki, roosmaryn-ciabatta met plaasbotter, salami, Ferrero Rocher-sjokolade en ys. ʼn Kussing en ʼn kombers. Wyn, insekweerder, sonskerm en ‘wet wipes’.”

Lizz Meiring is baie prakties wanneer sy oor haar perfekte piekniek gesels en dit klink amper of sy gaan kampeer! “My piekniekmandjie lyk effe alternatief – om sonder my noodsaaklikhede te wees kan my erg grief. Daai mandjie is groot en swaar gelaai, helaas, volgestop met goedjies wat ander sal verbaas: sonbrandroom en koelbly-sproei en ‘lipstiek’ en allerhande kosmetiek-items wat aan die obsessief kompulsiewe kant grens. Lekker vonkelwyn, so droog dat jou kiewe trek. Mooi vonkelwynglase van regte, egte glas wat by die mees opgetofte geleentheid sal werk. ʼn Goeie boek, mooi piekniekkombers, bottels water vir die nadraai – die nadors van later. Die piekniekspyskaart: al die eetgoed en kos sal ek liewer vir my kulinêre vriende los. Hulle moet maar besluit wat stal ons op daai kombers uit.

“Ek bring die drinkgoed, die mooigoed en die medisyne, want iewers het iemand altyd ʼn uitslag, kopseer of skete en pyne. Die buitelug en ek is in ʼn ewige stryd van te warm of te koud, so daar verskyn ook ʼn sonhoed en warmgoed uit daai mandjie. Dis nie ʼn piekniekmandjie nie – dis ʼn reuse-oorlewingskis wat ek met my sal moet saamsleep as ek ooit weer by ʼn piekniek is!”

WEN: As jy dink jóú piekniekmandjie skop stof in die oë van ander, wil ons graag van jou hoor. Koop ʼn kaartjie vir Maroela Media en attooh! se Buitebioskoop hier en laai tydens die Buitebioskoop foto’s van jou piekniekmandjie via Instagram met #Buitebioskoop2016. Jy staan die kans om R1 000 kontant en ʼn heerlike Maroela-geskenkpak te wen.

LET WEL: Die wenner word voor die tweede fliek (dus net ná die vertoning van Heidi en voor die vertoning van Sy klink soos lente) aangewys. Jy moet teenwoordig wees om die prys te ontvang.

Lekker, Maroela!

Lees meer oor die Buitebioskoop hier.

Net soos ʼn pannekoek met die beste resep nog steeds kan flop, kan Maroela nie pa (of ma!) staan vir enige van die resepte wat jy self by die huis probeer nie. Elke koppie meel, bakpoeier, melk, eier of enige ander bestanddeel is dus in jou eie hande en Maroela Media kan nie enige verantwoordelikheid aanvaar vir komplimente (of klagtes) oor jou kookvernuf nie. -Red

Deel van: Doen-dinge, Flieks, Kompetisies, Koolstoof

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

E.K. ·

Gaan nie inskryf want ek doen nie al die sosiale media goete soos twitter, instagram of watookal nie. MAAR, ek sal darem noem wat ek sou pak: belis nie deftige goed wat omgekrapte maag of sulke naarhede gaan veroorsaak nie. Biltong – beslis; outydse gemmerbier, definitief; tuisgebakte brood met regte botter – verseker en laast maar verseker nie die minste – koeksisters! Ja, dit klink nou seker nie so deftig soos salm en wyn en sulke goeters maar ek gaan nie sooibrand kry en ek gaan nie loopmaag kry ek gaan nie erg nadors kry en ek gaan nie kopseer kry nie. Liefs nie ‘n kombers want die goggas klim op, lekker uitskopstoele, sambreel en daar gaat ons. Natuurlik sal my mandjdie nie wen, dis mos te gewoon, maar dis eg Suid Afrikaans!

Delia ·

Oeee E.K., mag ek maar saam met jou piekniek hou?
Lekker verby!

Susantjie ·

E.K. ek gaan ook saam met jou fliek. Ek bring pampoenkoekies, kerrie jaffels, gekookte eiers, frikkies, blokkies kaas, peanutbutter en stroop broodjies, definitief daardie biltong en droëwors! En moenie die lekker roosterkoeke vergeet met botter kaas en konfyt nie. Ek is ook nie een vir die plastiekkos nie. XXX

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.