Soorte resepte:

Wen ʼn heerlike melktert op Melktertdag

Rachel Botes (Foto: Theana Breugem/FAK)

Is daar ’n lekkerder tert as melktert? Dié tradisionele Suid-Afrikaanse gebak het, soos braaivleis, nou ook sy eie dag. Net soos braaivleis vier dié stukkie volksbesit nou vir die afgelope ses jaar haar eie dag.

Die idee vir ’n dag gewy aan melktert is op 27 Februarie 2013 in Weg!-tydskrif se kantoor gebore. Dié tydskrif se joernaliste het besef net melktert is ’n teenvoeter vir die laatmiddag-tamheid wat op ’n mens toesak. Op Weg! se webwerf verduidelik hulle dit wat gevolg het só: “Dié nuus was te goed om nie te verkondig nie, en die daaropvolgende jaar was vriende, lesers, radiostasies, Facebook-kennisse, koffiewinkelbase en sjefs oorgehaal om ook op 27 Februarie melktert te bak, te sny en saam met geliefdes te geniet.”

Omtrent oornag het iets wat as ’n hunkering na ’n soetigheidjie begin het, gegroei tot Nasionale Melktertdag. Nasionale Melktertdag het nou ook sy eie Facebook-bladsy.

Melktert se stamboomwortels strek terug tot by die Romeine, pioniers van die eiervla. In die Middeleeue moes vindingryke kokke maniere bekook om die streng kerkreëls wat suiwelprodukte op vasdae verbied het, te omseil. Só het amandelpap, van amandelmelk, met gemmer en kaneel gegeur, ontwikkel, vertel die koshistorikus Hetta van Deventer-Terblanche. Met die verslapping van die vasreëls het eiervla weer sy buiging gemaak, dié keer in ’n triomfantelike skilfer- of broskors.

Selfs die tradisie om kaneel of kaneelsuiker oor te strooi, kom uit dié era. Niggies en nefies van ons melktert kan steeds geproe word in Portugese vlatertjies, pastéis de nata, die Griekse galaktoboureko filo-vlatert, Frans-Baskiese amandel- en vlatert, Britse vlaterte, Filippynse vlagebak en Amiese vlapasteie in Noord-Amerika.

Foto: Theana Breugem/FAK

Die Spanjaarde met hul flans, crema catalane en leche frita (gebraaide vla) is ook vlameesters, en die Italianers is verlief op torta di nonna met dennepit-vla en pasta ciotti – amandelgegeurde hand-vlatertjies.

Al praat die melktert baie wêreldtale, proe jy die eg Suid-Afrikaanse aksent in die ligte amandel- en kaneelgeure in die ryk eiervla, nog effe drillerig in ’n goudbruin vlokkerige kors.

Nasionale Melktertdag skryf nie voor nie. Maak jou melktert self of koop dit. Gaan korsloos; gebruik jou eie skilfer- of smeerkors of koop dit klaar. Strooi kaneel of kaneelsuiker oor, of hou dit naak. Al pleidooi is dat jy die dag ingaan met minstens twee terte; een vir jou en een vir ʼn geliefde of vir iemand wat nie kan bak of bekostig nie!

Kompetisie

Vanjaar hoef jy nie self in die kombuis te werskaf nie: 100 mense staan die kans dat die FAK en Maroela Media jou en ʼn vriend of vriendin met ‘n melktert op Melktertdag bederf! Vul bloot die onderstaande vorm in en nomineer die persoon vir wie jy graag ʼn melktert wil skenk en jy kan dalk die kans staan om een van dié 100 gelukkige mense te wees!

Die gelukkige trekking vind op 26 Februarie 2019 plaas en die wenner sal deur die FAK gekontak word om te reël dat jy Melktertdag vanjaar behoorlik kan vier!

Loer gerus op Melktertdag (27 Februarie 2019) op die FAK se Facebook-blad en Maroela Media se Facebook-blad hoe Rachel Botes, ’n sjef wat vir jare lank diep in die harte van menige Pretorianer gekruip het met haar uithalerdisse by die Carlton Café Delicious in Menlopark en Nataniël se (kos)mentor en vriendin, ’n melktert bak.

Sluitingsdatum vir inskrywings: 25 Februarie 2019

Bepalings en voorwaardes

  1. Slegs deelnemers en genomineerdes wat in Suid-Afrika woon, staan ‘n kans om te wen.
  2. Altesaam 100 wenners sal aangwys word uit die deelnemers wat die bostaande vorm invul. Die mense wat deur die wenners genomineer is, ontvang ook ‘n melktert.
  3. Die prys is een standaardgrootte melktert per wenner en een soortgelyke melktert vir die wenner se genomineerde persoon.
  4. Die FAK sal die onderskeie wenners kontak sodat reëlings getref kan word waar die melkterte afgehaal kan word.
  5. Dit is die wenner se eie verantwoordelikheid om die melkterte (jou eie en die melktert van die persoon wie jy verwys het), by ‘n plaaslike winkel in jou omgewing (soos gereël met die FAK) te gaan haal.
  6. Die FAK sal besluit by watter winkel in die wenner se omgewing die melkterte afgehaal moet word.
  7. Die wenner moet sorg dat die genomineerde persoon sy of haar melktert ontvang.
  8. Die wenners se name kan op Maroela Media se webwerf gepubliseer word.
  9. Slegs een inskrywing per persoon word toegelaat.
  10. Die kompetisie vir nuwe inskrywings sluit op 25 Februarie 2019 om 23:45.
  11. Wenners word aangewys deur middel van ‘n gelukkige trekking op 26 Februarie 2019.
  12. Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal verder hieroor gevoer word nie.
  13. Die pryse kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  14. Die deelnemers kan eenmalig deur Maroela Media gekontak word vir ‘n vrywillige donasie.
  15. Die deelnemers en genomineerdes kan eenmalig deur die FAK gekontak word om hul uit te nooi na toekomstige promosies en gebeure.
  16. Werknemers van die FAK en Maroela Media en hul familielede mag nie aan die kompetisie deelneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.