Soorte resepte:

Wêreldbekende sjefs kook in SA

George Calombaris (Foto: Verskaf)

Wêreldbekende sjefs soos Gary Mehigan, George Calombaris, Shannon Bennett en Matt Preston van die bekende televisiereeks MasterChef Australia sal binnekort die potte laat prut tydens die tweede Appetite Fest by Time Square in Pretoria.

Vanjaar sal die wenner van MasterChef Australia 2018, Sashi Cheliah, ook dié geleentheid bywoon.

Appetite Fest beplan om die grootste kulinêre- en vermaakfees te wees wat Pretoria nog gesien het. Dié drie dag lange fees volg op die eerste van sy soort wat in 2018 plaasgevind het.

Brett Hoppé, die algemene bestuurder van Time Square, sê hulle het ʼn paar veranderinge aangebring sedert verlede jaar, sodat die fees nóg meer aan mense se verwagtinge voldoen.

“Ons het die Appetite Fest ʼn dag langer gemaak en ons het dit na die lenteseisoen geskuif. Daar is ook ʼn rits nuwe ervarings wat feesgangers gaan geniet. Onder meer is daar ‘Cooking with…’- werksessies waarin kos-entoesiaste die geleentheid sal kry om saam met Suid-Afrika se bekendste sjefs te kook,” sê hy.

Gary Mehigan (Foto: Verskaf)

MasterChef Australia se charismatiese beoordelaars sal ook meesterklasse aanbied, wat vir aanhangers die geleentheid gee om dié bekende Aussies in aksie te sien.”

Feesgangers kan verder ʼn verskeidenheid boetiekbrouerye, gourmetkosstalletjies, hoë gehalte drankies en bekroonde wynkelders op dié fees verwag. Vraag-en-antwoord-sessies met internasionale en plaaslike sjefs word ook aangebied.

Kinders kan in ʼn veilige afgebakende area speel waar gesigverf, speletjies, ʼn springkasteel, ʼn klimraam en selfs ʼn kindervriendelike kosmaak-teater hulle sal vermaak.

Appetite Fest vind van 13 tot 15 September by Time Square in Pretoria plaas. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.