Soorte resepte:

Willem Louw se tamatiebredie

Bron: www.bosluis.co.za

Die basis van die tamatiebredie (vir vier tot ses persone) is:
1 kg bredievleis (skaapskenkels, skaapnek of beesvleis in blokkies gesny) (of Leipoldt se lamsribbetjie) (Hoender kan ook gebruik word) (Het ook al Boerewors in ‘n restaurant se tamatiebredie gesien)
2 uie, in skywe gesny
15 ml kookolie (Die Franse tamatie “pot au feu-resep” beveel olyfolie aan)
2 of 3 knoffelhuisies, fyn gekap
Sout en peper (na smaak) (Die peper kan gemaalde of heel peperkorrels wees)
8 tamaties (geskil) in stukke gesny (Geblikte tamaties kan ook gebruik word)

Res van bestanddele
2 aartappels, in kwarte gesny
1 eetlepel suiker
20 ml vars tiemie
5 ml vars oreganum
witwyn (Vir die gereg en die kok)
5 ml vars marjoram

Ander bestanddele wat bygevoeg kan word, is:
2 Gekapte rissies
3 ml wonderpeper
5 ml fyn neutmuskaat
2 ml borrie
5 ml droë basiliekruid
3 ml karwysaad

Metode
1 Gooi die olie in die pot
2 Braai die uie sag en voeg die vleis by.
3 Braai 40 minute lank.
4 Voeg die suiker, geskilde en opgesnyde tamaties, aartappels en kruie by.
5 Kook ongeveer 2 ure lank (Die oond moet ongeveer 180 gr C wees).
6 Gooi witwyn by indien dit te droog raak. (Of gebruik deur die kok as hy warm raak)

Agtergrond
Tamatiebredie is ʼn internasionale gereg wat in verskeie variasies regoor die wêreld gemaak word.

In Suid-Afrika is dit opgeteken sedert resepte in druk begin verskyn het. Renata Coetzee in Spys en Drank (Die ontstaan van die Afrikaanse eetkultuur … uitgegee deur C Struik Uitgewers, 1977, beweer dat die bredie vanuit Maleisië na Suid-Afrika kon oorgekom het. Variasies van bredie was in Holland bekend as Hutspot of Hutsepot in Vlaams.

In Frankryk staan dit as “pot au feu” bekend. Terloops, die woord “pot” verwys na groente en vleis wat saam in dieselfde pot voorberei word. Vandaar die variasie van bredie wat as “potjiekos” bekendstaan.

Die bekendste tamatiebredieresep in Suid-Afrika is seker die resep van C Louis Leipoldt wat sy bredie met gekapte lamsribbetjie maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.