Soorte resepte:

Wyn nie net vir ‘snobs’ nie

wyn (2)

Foto: Pixabay.com

Wyn hoef glad nie gekompliseerd te wees nie; dit gaan mos eintlik oor die samesyn wat saam wyn gaan. Maroela Media het met Gerda Mouton, ʼn wynmeester van Pretoria, gesels oor die basiese beginsels van wyn.

Die verskil tussen wit-, rosé- en rooiwyn

Die verskil tussen dié wyne is hoofsaaklik hul kleur, maar Gerda meen dit is egter nie die enigste verskil nie. Onder andere is daar ook ʼn verskil in die tanienne-struktuur van die wyn.”Dus, as jy wyn maak van groen druiwe is dit ʼn witwyn. Die proses behels dat die druiwesap so gou moontlik van die doppe verwyder word om ʼn helder sap vir fermentasie (gisting) te verkry.”

Rooiwyn word van rooi druiwe (hoewel wynmakers van swart druiwe praat) gemaak en kry ook baie langer blootstelling aan die druiwe se doppe. “Tydens die gistingsproses moet die sap in kontak bly met die doppe sodat dit die kleur kan absorbeer van die druif. Rooiwyn se dopkontak is enigiets van weke na maande.” Die wyn verkry nie net ʼn mooi donker kleur van dié blootstelling nie, maar neem ook tanienne op.  Rooi druiwe kan gebruik word vir die maak van witwyn, omdat selfs die sap van rooi druiwe geen kleur pigment bevat nie. In die praktyk is dit egter net Champagne of vonkelwyn volgens die Champagne-metode wat gemaak word van rooi druiwe, naamlik pinot noir en pinot meunier.

Juis as gevolg van die ekstraksie van tanienne by rooiwyn  word minder sulfate gebruik met die maak van rooiwyn. Die voordeel daarvan vir mense wat allergies of asmaties is vir sulfate, is dat rooiwyn eintlik beter is  vir hulle as witwyn. Omdat witwyn nie hierdie ingeboude beskerming het van tanniene nie moet noodwendig hoёr vlakke sulfaat gebruik word.

Meeste rosé-wyne word van rooi druiwe gemaak. Die  hoeveelheid blootstelling van die sap aan die druiwedoppe is baie korter as by dié van rooiwyn.  Deurdat die sap verwyder word van die druiwe doppe na n baie kort tydperk kry rose wyn sy pragtige pienk/roosagtige skakerings.

Wat is ʼn versnitwyn?

“Dit is ʼn wyn wat meer as een druifvariëteit bevat. By ʼn versnitwyn is die som van al die individuele komponente in die samestelling beter as elke enkele variëteit op sy eie. Die voordeel is voor die hand liggend: Daar word ʼn meer komplekse wyn verkry wat beter kan verouder as ʼn enkelvariëteitwyn. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is ʼn Bordeaux-styl versnit van onder meer cabernet sauvignon, merlot en cabernet franc met heelwat kleiner hoeveelhede malbec en petit verdot. In Suid-Afrika word daar baie innoverend gewerk met witwyn-versnitte en is dit die wyne wat heelwat van die internasionale toekennings verdien.”

Hoe weet ek dis kwaliteitwyn?

“Wel, ten eerste moet dit drinkplesier gee! Dit moet egter voldoen aan sekere standaarde wat universeel opgestel is deur proepanele en wynkundiges. Die woorde wat daarvoor gebruik word, is gewoonlik: balans of lengte van nasmaak op die palet, diepte van die wyn of kompleksiteit en tipies klassieke karaktereienskappe eie aan die druifsoort.”

  • Balans: Tussen soet en suur, tannien-intensiteit en vrugtigheid.
  • Lengte: Kan jy dit proe oor die volle lengte van die palet? Word dit versteur deur te veel alkohol of tannien?
  • Diepte: Dit proe nie plat en is nie een-dimensioneel nie.
  • Kompleksiteit: Dit het ’n hele reeks aromas en geure.
  • Nasmaak: Dit wat agter in jou keel agtergelaat word nadat jy dit gesluk het. Jy kan nog steeds die geure soos vrugtigheid of speseryagtigheid proe.
  • Tipies eie aan die wynsoort: Dit bevat klassieke karaktereienskappe van die druifvariteit ; sauvignon blanc het byvoorbeeld kenmerkende groen en/of tropiese geure.

Beteken duurder wyn altyd beter gehalte?

Nee, glad nie! Dit gaan oor persoonlike smaak. Jy hou dalk glad nie van die wyn wat deur ʼn sogenaamde connoisseur/wynkundige as baie goed bestempel word nie. Daar is wyn vir “elke dag” en “spesiale geleenthede”. Soek die wyn uit wat die beste waarde bied. Jy weet nie of die duurste wyn reg geberg is nie, veral in restaurante. Gehalte is ook nie altyd die enigste oorweging nie. Baiekeer is die “beste” wyn een vir almal se smaak.

Lees gerus meer oor Gerda Mouton hier.

Net soos ʼn pannekoek met die beste resep nog steeds kan flop, kan Maroela nie pa (of ma!) staan vir enige van die resepte wat jy self by die huis probeer nie. Elke koppie meel, bakpoeier, melk, eier of enige ander bestanddeel is dus in jou eie hande en Maroela Media kan nie enige verantwoordelikheid aanvaar vir komplimente (of klagtes) oor jou kookvernuf nie. -Red

Deel van: Karmenaadjies, Koolstoof, Só maak mens

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae