Soorte resepte:

Ystervarkslagtery met ’n paar stertjies

Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

So ’n twintig-plus jare terug het ons by vriende naby Delmas gekuier toe die seuns die aand ’n ystervark in die ertjieland geskiet het. Gedagtig aan die dae toe ek as seuntjie saam met die plaasvolk gebraaide rietrot geëet het, het ek terstond gevra of ek nie maar die ystervark kon kry om te slag nie. So het ek toe die ding gekry en my eerste ystervark geslag. Dit was toe maar ’n sleg affêre, want ek was onkundig en die gedierte het gewemel van bosluise en vlooie.

Toe die karkas, ná ’n lang gesukkel, met niemand wat wou help nie, gehang het, het ek besluit dit was my eerste en laaste poging. Om salf aan die steekwonde te smeer, het die vleis nogal nie te onaardig gesmaak nie en die hele spul is opgeëet. Ek weet nou nog nie of dit uit simpatie of ordentlikheid van my huismense was nie.

Nou die ander dag kom goeie vriend Salmon de Swardt hier by my aan en vertel dat hy kort-kort ystervarke moet vang en skiet. Hy vertel toe verder hoe die skade wat hulle ’n man berokken, hom bankrot kan maak. Dis toe net daar waar die dapperheid my oorval en ek vra toe vir hom of ek die volgende een kon kry. Die vorige ervaring sou die slagtery darem so ’n bietjie makliker maak, het ek geredeneer.

Net die volgende dag kom hy toe hier aangery met ’n bielie van ’n ystervark met ’n netjiese kopskoot, gereed om geslag te word. My ou Helpertjie het vinnig ander dringende werk uitgedink en aangepak en toe’s dit ek en die ystervark. Genadiglik was daar nie ’n enkele bosluis of vlooi sigbaar nie. Nou moet jy weet! Niemand het my geleer hoe om ystervark af te slag nie. Ek het op die harde manier geleer en as jy wil weet hoe seer die penne steek, vra maar vir my. Ek het begin deur die meeste bruikbare penne uit te trek. Mense maak mos allerhande mooi goetertjies met die penne vir ’n ou ekstra geldjie. Nadat die lang penne uitgetrek is, was daar nog, ek kan nou nie sê miljoene nie, maar derduisende penne en pennetjies oor. Sulke langeriges en sulke kortetjies omtrent soos hare op ’n hond se rug.

Ek het my mes geslyp en toe die slagding netjies op die rug laat lê en besluit om eers die pootjies af te sny. Dit was nogal ’n aardige gevoel, want met die pootjie in die hand het dit alte veel gevoel soos ’n bobbejaan wat jy geskiet het se hand in jou hand. Die afslaggery het goed afgeloop tot ek by die gesogte rugvel gekom het. Ek het agtergekom dat ’n dik vleislaag aan die rugvel nie deel van die karkas was nie. Dit het die afslaggery aansienlik vergemaklik, maar ’n rukkie later het dit geblyk dat ek tog so ’n bietjie onkundig was.

Die plaaswerker het die gesukkel so staan en bekyk en toe kon hy dit nie langer hou nie: “Nee, nou mors Oubaas mos met die vark se vel!” Ja, hy noem my so, sonder dat hy aangesê is. “Oubaas moet mos al die penne uittrek, dan kookwater oor hom gooi en dan krap jy hom soos jy ’n mak vark krap. Die vel is mos eenklik die lekkerte van die ystervark!” Nou ja, die skade was gedaan en Jan het die vel gekry.

Wat hy met hom gedoen het, weet ek nie, maar hy het kom sê dat ek die volgende vel maar weer na sy kant toe kan laat kom.

Die oopsny van die buikholte het glad verloop – maar soos met enige ander slagdier. ’n Snoeiskêr was ideaal om die bors- en ysbeen deur te knip. Anders as wat ek verwag het, was daar nie die tipiese varkreuk toe die buikholte oopgesny is nie. Dit was nader aan die skaap- of beesgeur wat in die lug gehang het.

Die binnegoed is toe netjies uitgeslag en ek het die karkassie opgehang om in boudjies en bladjies opgesny te word. So teen die blou lug het hy goed gelyk, en die mooi rooi vleis het getoon dat ystervark nie aan vark verbonde is nie! Ek het ribbetjies uitgehou en die res netjies verpak om gevries te word. Dis nou nie dat ek my eie stert wil prys nie (niemand anders sou dit in elk geval wou doen nie) maar die ou joppie het ’n knipoog en ’n klop op die skouer verdien.

Ek het Jan se raad gevolg en die ribbetjies eers vir ’n paar uur in asynwater, om die “willigheid yt hom yt te kry”, laat lê en toe opgehang om winddroog te raak. Nadat ek die vleisies met die nodige megheftertjies reggesien het, het die rooipitjiekole die res gedoen. Sonder ’n ou wyntjie om die lekkerte aan te wakker, het ons die ribbetjies afgeëet totdat hulle witbleek in die borde bly lê het.

So ’n dag of wat later het ons die nek en rugstring, net soos skaapnek, op onse gewone manier in die prutpot gaargemaak en toe saam met vars groente geniet.

’n Mens moet maar met hom maak soos jy met wildsvleis maak.

As ek reg onthou, het donkiejare terug se duikervleis min of meer dieselfde gesmaak en nou kan ek onthou dat nie almal van die smaak van duikervleis gehou het nie. Vir ons was en is dit ’n lekkerte wat nie te versmaai is nie.

Intussen is die volgende een al geslag en halfpad opgeëet, en solank vriend Salmon sy groente-oes  moet beskerm, sal ek my geldjie vir vleis kan rek. My slagmes is geslyp. So sal ek ons vrieskasinhoud aanvul en môre, oormôre as die neusoptrekkers nie bees en skaap kan bekostig nie, kan hulle maar by ons kom eet. Net nou die dag het my ou Kosmakertjie ’n besonderse vleisgereg voorgesit en nie ’n lekseltjie het oorgebly nie. Niemand sou kon droom nie …

Daar’s twee stertjies wat ek nou by die slagstorie wil aanlas. Ons het voor ’n vergadering buite staan en gesels. ’n Mens moet eintlik vir vriend Salmon en sy manier ken om die stukkie te waardeer en daar’s mos partykeer ’n gesprek of opmerking wat jy nie wil vergeet nie. Hy’s ’n man wat ’n ding so eerlik, opreg, mooi en raak kan sê. Dis toe ek hom inlig hoe ek tydens die slagtery onder die ystervark se penne deurgeloop het, dat hy doodernstig die volgende te vertel het: “Wee’ jy Oosie, hoe waar dit is, weet ek nou nie, maar hulle sê mos die penne het sukke fyn weerhakies. Oosie, en weet jy wat sê hulle nog? Hulle sê daai hakies is so klein dat dokters hulle gebruik om senuwees te haak as hulle opereer. Of dit waar is, weet ek nie, maar kan jy nou vir jou indink … Die wonder van die skepping darem maar …”

Ons het vir ’n wyle stilswyend gedink en gewonder oor die wonder van die skepping. Dis toe dat die volgende juweelgesprekkie gevolg het; die soort van gesprekkie wat jou in prentjies laat dink: “Maar nou’s daar ’n ding waaroor ek al baie gewonder het. Dis nou seker nie ’n ding waaroor mense praat nie,” het hy, diepdenkend, weggeval. Ek het hom nuuskierig kans gegee om te praat en toe kom dit: “Jong, ek wonder maar net.” Amper gewyde stilte en met sy kop so skuins gedraai … “Hoe paar die goed?” En daar staan ons vir mekaar en kyk. Hy met ’n ondeunde glimlaggie en ek so ’n bietjie onkant betrap … Ons het albei staan en wonder.

“Jong, as skilpaaie kan, kan ystervarke seker ok!” het ek hardop gedink en toe’t ek bygevoeg dat ek sou dink dat hulle hulle nie laat aanjaag nie en tydsaam en baie versigtig te werk gaan. Ons het so ’n paar laggies uitgekug en my ou buurman het die laaste sê gehad: “En nog ’n ding, Oosie, wee’ jy, hoe meer ek vang, hoe meer word hulle. Ek vang nou al twee, drie op ’n slag!” Daar was so ’n indringendheid, amper driftigheid, in sy stem. “Hulle sê mos daar’s goed wat vinniger aanteel as hulle bedreig word!” Nogeens was ons in verwondering oor die natuur.

Ons indiepte-gesprek, ter wille van oorlewing en dié soort ding, is ontydig onderbreek en kortgeknip toe van binne af geroep is omdat die vergadering alreeds aan die gang was.

Laat weet as julle kom kuier! My ou Meesterkokkie sal ’n ystervark-herderspastei of ’n lekker kerriegereg met lekker bykossies voorsit en wie weet, dalk braai ek vir jou ’n ystervarkworsie, met varkspekblokkies in, terwyl die son sak. En wanneer die wintertjie toeslaan, kan ons dan ’n lekker ou soetetjie uit my bosbokhoring-“wynglas” laat val waar hy wil. Dit beloof ek jou: Ek sal nooit vir jou jakkals en rooikat of bobbejaan voorsit nie. Ok nie likkewaan en pofadder nie.

Miskien ’n dassie, maar gelukkig is hier nie dassies nie.

Net soos ʼn pannekoek met die beste resep nog steeds kan flop, kan Maroela nie pa (of ma!) staan vir enige van die resepte wat jy self by die huis probeer nie. Elke koppie meel, bakpoeier, melk, eier of enige ander bestanddeel is dus in jou eie hande en Maroela Media kan nie enige verantwoordelikheid aanvaar vir komplimente (of klagtes) oor jou kookvernuf nie. -Red

Deel van: Karmenaadjies, Koolstoof, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

19 Kommentare

Wilsie ·

Wat ‘n pragtige storie. Ek was in 2005 saam met my swaer in Alldays om te jag. Die wildsboer het ystervarkpenne aan die Amerikaners aangebied teen $10 elk. Dit was daai tyd R6/$. Miskien moet jy ook die penne te koop aanbied.

John ·

Johan, ek is kwaad vir jou en die boere. Het jy nie genoeg kos om te eet nie? Jy klink soos ‘n Japannees wat ‘n walvis slag. Die boere… ja die arme boere… hulle aanbid nou al die gm-Amerikaners en skiet wolke vir reen, spuit gif om graan te droog, maar hul kla en kla oor alles wat leef op hul grond. Hier gaan net soveel wilde diere oorbly in Suid-Afrika as wat daar jakkalse in Engeland is. Uiteindelik sal die boere ook uitgeroei word deur die mynbase, dan sal hulle lang trane huil oor hul geboortegrond… en die wild, daar waar hulle dag en nag die geloei van ambulanse en polisiekarre moet aanhoor in hul dorpshuisies… sonder die arende se suiwer roep en die aaklige ystervarkies wat hul profyt so opgevreet het…

Helene Heyns ·

Het ek nou hierdie storie geniet. Dit was interssant, dankie

Bloues ·

John….is jy ernstig? Nee man wees eerlik nou, is jy rerig ernstig?

A3 ·

Die storie was nou wel interresant maar wreed – dit is soos die hasies wat uitgeroei is – ons kan nie als wat ons pla doodmaak nie – die natuur en die diertjies was eerste daar en hulle het net soveel reg om te lewe – ons het dieselfde probleme met ape hier en jy moet net leer om saam hulle te leef en sorg dat jou vensters toe is en nie kos oop en bloot op jou tafels laat rondlê nie – so wat ek probeer sê is probeer ander alternatiewe en miskien werk dit

Johan 2 ·

Wreed? Hoekom? Meer wreed as om bees te eet? Jul maak seker n grap, het jul al gesien hoe gaan dit in die natuur.

humor ·

John jy het sekelik nog nie ytervark aan jou lyf gevoel nie Ek bedoel nie letterlik die penne nie, Sommige plekke is ystervark n pes en berokken jou die winsie wat jy kon maak om van brood te koop.

Johan 2 ·

Ja nee wat ou jan sit die pot mis. Daai goed teel soos konyne en is glad nie bedreig nie (meeste mense se voetspore soos plastiek gebruik maak baie meer skade, maar hul kies om dit nie te sien nie). Ons het al die vel ook gebraai, dit is so lekker duk vet storie, jy moet net versigtig wees dat die vlooie nie in die “uitgetrekte-pen-gate” ingaan nie, so was kom voor jy die penne uittrek. Dankie vir die skrywe ek verlang nou na die Vrystaat.

zahn ·

Los die dier buite vir ‘n paar uur, die vlooie en goed klim vanself af as die dier dood is. Slag hom daarna.

Die kans dat ons die ystervarke sal uitroei teen die huidige tempo, is maar skraal. Hulle oorleef al vir honderde jare tussen mense, naby aan huise, en in woonareas. Hulle is baie meer vindingryk as wat meeste mense dink, en onthou net een ding, hy is ‘n knaagdier. Wat die telery betref, ystervarke paar elkke dag, nie vir simpelgeid of om voort te plant nie, maar die geboortekanaal word so gestimuleer om oop te bly. Eintlik ‘n heel interessante dier, word in baie volkstories aangehaal, en ja, hy eet baie lekker. Daai rugvel braai soos varkrib..hmm

Jan maak n Plan ·

Hiers nou weer n paar groen mense wat duidelik net mooi niks van boerdery af weet nie. Eerstens word daar nie net voor die voet alles wat asem haal geskiet nie. Tweedens word die ystervark wat wel geskiet word nie net daar in die land gelos nie, o nee dit word gebruik. En verder is dit duidelik dat hierdie mense nie n idee het hoe lekker ystervark proe nie.

Bloues ·

John, nee ek ken jou nie. Ek kon egter nie glo dat n regdenkende so n uitlating sou maak nie. Aan die ander kant is dit ook moontlik dat sulke uitlatings gemaak word uit absolute onkunde.
Maar dis jou siening en jy is geregtig daarop. Moet dit asb net nie aan ander on ingeligtes oordra nie.

EMK ·

Simpel. Hoekom die arme goed skiet en eet. Julle neem hul habitat oor en verwag dat hulle moet gelukkig wees. Ai en die ou saamstemmers/vreters tog…Die wat dink hul is nie bedreig nei – paar jaar gelede het mense dit van renoster ook geskryf. Moet mens nou wag tot dit op die lys vir bedreigdes beland voor jy stop? O …koes ek nou weer vir die beledigings en klippe

John ·

Bloues, laat net een van jou werkers dit durf waag om ‘n ystervark dood te maak en te eet, dan heet jy Rooies. Eet alles op wat voorkom soos die Oosterlinge. Dalk kan julle boere begin toor met die pootjies en penne… Reen toor en iets nog beter as gm-saad… ja, met gif wat ystervarke pote in die lug laat draai. Dalk spring die penne ook sommer vanself af… en

Bloues ·

Ystervarke, soos meerkaaie (of is dit nou meerkatte) is ongewens en enige iemand kan hulle doodmaak. Ek sal geen traan stort nie. Maar ja gesien in die lig van jou laaste kommentaar, verstaan ek hoekom jy so redeneer .

Johan Oosthuizen ·

John (en jou meelopers)
Jy’s nou kwaad vir my en die boere. Ek voel lus om kwaad met kwaad te vergeld maar ek sal nie. My binneste maak nie ruimte daarvoor nie. Eintlik voel ek baie jammer vir jou want as jy konsekwent is, met jy baie swaar kry. Ek sien hoe sit vlieë swart in jou kombuis want niks wat lastig is mag doodgemaak word nie. Ek sien hoe wemel dit van kakkerlakke in jou koskas en snags vreet die muskiete jou op. Ek hoor hoe verwyt jy die beamptes wat malariamuskiete uitroei, terwyl jy by jou beste vriend se sterfbed staan, sterwend weens malaria. Ek kan ook melodramaties raak.
Jy ken my sleg. Ek jag nie want ek kan dit nie oor my hart kry om ‘n bok in die vrye weiplek te skiet nie. Dis egter nogal interessant dat wildgetalle steig ten spyte van jag. Kom help my om pofadders, bergadders en ander ongewenste slange op my werf te vang en dan bo in die berg los te laat. Kom kyk na my reuse molslangvriende in die stoor wat die rotplaag bekamp.
John, al die kos wat jy eet word deur boere voorsien. Moenie met met ‘n mond vol kos twak praat nie. Ontsnap uit die noute van jou beperkte denkpatroon en sien die realiteit van miljoene Rand skade wat kosverskaffers moet ly.

John ·

Aai tog Johan, nee ons kaste en huis is skoon vandaar geen insekte. My gewete ook. Dis nie ek wat bedel vir aalmoese by die arm stedelinge om my nuwe 4×4-skuld af te betaal of boetie se skoolfonds en mammie se strandhuis nie. Moet ons stedelinge dankbaar wees vir die gm-graan en onkruiddoder in ons sonneblomolie? Feitlik alle winkelbrood bevat sojameel en alle sjobone in ons land is geneties gemodifiseer. Baie sleg vir mense met skikdklierprobleme en nie ideaal vir babas nie. Die VSA het ons met saksies op ons kniee gedwing, maar ons koop hul beloftes van groot oeste. Hou op met die storie dat julle ons lewens red met gm-produkte. Dit gaan suiwer oor wins… vir julle. Pofadders en.. en wat het dit met ystervarke uit te waai. Hoekom verkoop supermarkte nie ystervarkvleis nie? Het jy al gehoor van hondsdolheid? Ek kry skaam vir ons boere se part wat soos Duitsers elk ‘n Prosch voor die waenshuis wil sien staan voor hul glimlag. Kyk hoe gaan jy aan as ek vir Bloues bietjie terg. Hou op slange vang en boer ‘n slag.

Pennelekker ·

My weermagervaring saam met Namibie Boesmans was om die penne oor die vuur af te brand en die vleis dan verder te verwerk. Alles in die veld natuurlik.

Beatrix ·

Johan, ek het jou ystervark stories baie geniet. Eek her op i plaas grootgeword en het gesien wat she skade ystervarke kan veroorsaak. Ek is nou so spyt ek het nooit geproe hoe dit smaak nie.
Vergewe maar die oningeligdes, met hul negatiewe kommentaar. Daar sal altyd diesulkes wees. Ons weet gelukkig wat hul nie weet nie.
Groete vanuit Windhoek

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.