2018: Bok-brekers, gekraakte rakette en balpeutery

Kevin Anderson het amok by vanjaar se Wimbledon-toernooi gemaak.(Foto: @Wimbledon, Twitter)

Sport is ’n kookpot van grenshoue, kishoue, uitklophoue en barshoue. Maar soms verleen ’n tikkie omstredenheid, ’n paar maatemmers trane en twee knypies emosie ’n bietjie ekstra smaak aan dié mengelmoesbrousel.

En 2018 was ’n jaar van Bok-brekers, gekraakte rakette, woedeuitbarstings en ’n balpeutery soos min. Hier is ʼn paar van die jaar se hoogtepunte óp en ván die sportveld.

1. Onthou jy die dag toe die Lions die Brumbies 42-24 op Emirates Airline Park ore aangesit het? Waarskynlik nie. Maar ek wed jou twee kaste Sprite Zero jy kan onthou wat net daarna in die SuperSport-ateljee gebeur het.

Jip, dit is die Ashwin Willemse-sage!

Ashwin Willemse. Foto: SuperSport

Die oud-Bokvleuel was klaarblyklik keelvol vir sy mede-aanbieders, Nick Mallet en Naas Botha, en hy het sy misnoeë duidelik te kenne gegee toe hy gedurende die regstreekse uitsending van die stel gestap het.

Mallet en Botha is onskuldig bevind aan rassisme en is intussen terug op die kassie as die betaalsportkanaal se rugbypuriste.

2. Pa het altyd gesê om die All Blacks in Nieu-Seeland te troef, is byna soos om die tussenverkiesing in Pullenshope as ’n onafhanklike kandidaat te wen: so te sê onmoontlik.

Rassie Erasmus – in die spervuur soos alle afrigters maar is. (Foto: Twitter @Springboks)

Maar die warm/koud-Bokspan van Siya Kolisi en Rassie Erasmus het presies dit vermag toe hulle die Nieu-Seelanders 36-34 in Wellington getroef het. Die feit dat die All Blacks ’n week of wat later op Loftus Versfeld die Bokke in eie munt terugbetaal het, word liefs oorgesien.

3. Kevin Anderson het vanjaar gedurende die Wimbledon-toernooi gesorg dat selfs die voorsitter en penningmeester van die “Ek-hou-nie-van-tennis-en-wat-daarvan-beweging” elke rughou en voorhand van die Suid-Afrikaner op die punte van hul stoele dopgehou het.

Die 32-jarige was in ’n epiese halfeindstryd met John Isner betrokke. Hy het die vyfde en beslissende stel met 26-24 gewen om die langste halfeindstryd (twee uur en 55 minute) in die geskiedenis met 7-6, 6-7, 6-7, 6-4, 26-24 te wen,

O ja, hy het in die kwartfinaal met Roger Federer afgereken….

Andre Esterhuizen – ‘n goeie wedstryd met skaars aanvalskanse.(Foto: GB Jordaan)

4. Die dag toe André Esterhuizen homself in die (afwesige) langarm van die Owen Farrell-gereg vasgeloop het.

Die Bokke was vir oulaas op die aanval in ’n poging om hul agterstand van 11-12 teen Engeland op Twickenham uit te wis. Die bal is na Esterhuizen versprei , maar dié het hom trompop teen Farrel vasgeloop.

Die Brit het die Suid-Afrikaner katswink met sy skouer geloop, maar die Aussie-skeidsregter, Angus Gardner, het teen ’n strafskop beslis. Hy het later erken dat sy beslissing verkeerd was.

5. John McEnroe was ’n Amerikaanse tennissuperheld in die 1980’s en sy voorhandwenners was net so indrukwekkend soos sy woedeuitbarstings op die baan.

In 2018 het sy landgenoot, Serena Williams, haar lyf pure McEnroe gehou. In die eindstryd van die Amerikaanse Ope teen Japan se Naomi Osaka het Williams onder die druk gevou en haar raket op ’n minder vriendelike wyse (om dit sagkens te stel) stukkend gegooi gedurende ’n woordwisseling met die skeidsregter, Portugal se Carlos Ramos.

Sy is $17 000 beboet.

Steve Smith, voormalige krieketkaptein van Australië, in trane tydens ’n mediakonferensie in Sydney. Die Aussies se balpeutery is vroeër vanjaar op televisiekameras vasgevang. Foto: AP Photo/Steve Christo

6. Almal het altyd gewonder hoe die Australiese krieketspan dit regkry om so vroeg in ’n toetswedstryd omgekeerde swaai te bewerkstellig. Ná die Nuwelandtoets teen die Proteas het die wêreld waarskynlik dié raaisel beter verstaan.

Die Aussies is op televisiekamera uitgewys hoe hulle met die bal peuter. Die span se kaptein, Steve Smith, het saam met David Warner en Cameron Bancroft later skuld erken. Hulle is vir ’n periode geskors.

Deesdae wen elke Jan Rap en sy maat die Aussies….

7. Aphiwe Dyantyi het vanjaar die wêreld letterlik aan sy voete gehad. Die blits van die Leeus het ses drieë in 14 internasionale toetse gedruk en het ’n deurslaggewende rol in die Bokke se sege in Wellington gespeel.

Sy spoed, passie en talent is deur wêreldrugby vereer toe hy as die Deurbraak-speler van die jaar vereer is.

Aphiwe Dyantyi druk sy tweede drie met TJ Perenara en Ben Smith wat te laat is om te keer. Hy is as wêreldrugby se deurbraakspeler van die jaar aangewys. (Twitter @AllBlacks)

8. Die Blitzbokke is ’n krag waarmee daar rekening in sewesrugby gehou moet word en hulle is vir die tweede agtereenvolgende jaar as die HSBC-sewesreekskampioenspan gekroon. Hulle is die naweek in Kaapstad in aksie.

9. Frankryk wen sy tweede Wêreldbeker-sokkertoernooi in Rusland toe hulle vir Kroasië 4-2 in die eindstryd in Moskou geklop het. Boonop was daar ’n rits spelers met Afrika in hul bloed in die Fransmanne se beginspan.

Dan is daar nog Kagiso Rabada se blitskartetse en Caster Semenya se pragsege by die Statebondspele. Die jaar 2019 kan selfs beter wees!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.