Pretorius is Protea-bloubloed

Karla Pretorius in aksie op die netbalbaan. Foto: Reg Caldecott.

Die Protea-netbalspan het vroeër vanjaar gewys dat hulle vir niemand op die baan hoef terug te staan nie, toe hulle sterk in die vierhoekige reeks teen Engeland, Australië en Nieu-Seeland in Liverpool vertoon het.

Die span het onder andere met Engeland (48 – 45) afgereken, terwyl hulle die ander twee spanne goed skrik gemaak het. Een van die sleutelfigure in die Proteas se suksesverhaal is hul verdediger, Karla Pretorius.

“Ek dink ons kan definitief internasionale silwerware wen,” het sy Woensdagoggend aan Maroela Media gesê.

“Ons het vanjaar op die baan gewys dat ons topspanne kan wen en ons put baie selfvertroue uit ons vertoning by die vierhoekige reeks in Engeland. Hopelik kan ons op dié vertonings bou in die komende Wêreldbeker (ook in Liverpool).”

Die 29-jarige Pretorius speel deesdae haar netbal in Australië en glo dat die Aussies se professionele omgewing haar spel baie help.

“Jy oefen en speel teen die wêreld se bestes en elke wedstryd word teen ’n baie hoë intensiteit gespeel. Mens kan nie anders as om ’n beter speler van die baan af te stap nie. Ek leer ongelooflik baie elke dag.”

Sy speel in die Suncorp Super‑netballiga en is tans woonagtig in die Sunshine Coast – naby Brisbane.

“Dit is ’n lieflike plek en voel baie soos Bloemfontein, maar net by die see. Dit is nie ’n baie groot stad nie en daar is ’n sterk gemeenskapbetrokkenheid,” vertel sy.

Hier stuit se nog ’n doelpoging in sy spore. Foto: Reg Caldecott.

“In Australië word baie aandag gegee aan kondisioneringswerk, sowel as jou algehele welstand as individu en speler. Ek voel dit het ’n reuseverskil aan my spel gemaak.”

Sy meen die Varsitybeker-kompetisie dra ook baie tot Suid-Afrika se netbalsukses by. “Ek voel dit is die enigste kompetisie in die land wat ’n kompeterende omgewing vir ’n netbalspeler en die betrokke spanne skep.

“Hoe meer kompetisies daar in Suid-Afrika is, hoe beter vir die sport. Daar is niks wat die belangrikheid van wedstrydtyd klop nie. Jy kan jou gô uitoefen, maar sonder wedstryde, toernooie of kompetisies sal die sport nie vorentoe kan beweeg nie.”

Haar netballoopbaan sluit talle hoogtepunte in, waaronder die wen teen Engeland en verlede jaar se sege in die Suncorp-liga.

Die Wêreldbeker begin Juliemaand in Liverpool en die Proteas sal hoop dat dié toernooi ook onder haar gunsteling‑netbalherinneringe sal tel.

  • Suid-Afrika se Wêreldbeker-bepalings:

13 Julie teen Trinidad en Tobago

14 Julie teen Fidji

15 Julie teen Jamaika

Die eindstryd word op 22 Julie gespeel.

  • Suid-Afrika speel ook gasheer vir die 2023 Wêreldbeker.
  • Pretorius was die South Coast Lightning se mees waardevolle speler in verlede jaar se eindstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.