Tennis:
- Suid-Afrika se Kevin Anderson het die organiseerders se besluit geloof om Wimbledon vanjaar te kanselleer.
Dié gewilde Grand Slam-toernooi sou in Julie plaasgevind het, maar weens die Covid-19-pandemie is dit na 2021 uitgestel.
“Wimbledon het nog altyd vir ongelooflike herinneringe gesorg en die grasbaan-seisoen sal definitief gemis word. Tog is dit nou die belangrikste om tuis te bly en na mekaar se gesondheid om te sien,” het die 2018-Wimbledonfinalis gesê.
Die toernooi se nuwe datum is 28 Junie 2021 tot 11 Julie 2021.
- Intussen is die tuiste van die Amerikaanse Ope, Flushing Meadows in New York, in ’n tydelike hospitaal verander om die stad se Covid-19-gevalle te behandel.
’n Gedeelte van die beroemde Central Park is ook in ’n hospitaal omskep.
Olimpiese Spele
- Die Olimpiese vlam is tans in Fukushima.
Thomas Bach, die president van die Internasionale Olimpiese Komitee, het gesê dat die vlam in Japan sal bly brand.
“Dit is ’n simbool van hoop en is die lig aan die einde van ’n donker tonnel,” het hy gesê.
Die Spele, wat vanjaar in Tokio aangebied sou word, is met ’n jaar uitgestel en vind nou op 23 Julie 2021 tot 8 Augustus 2021 plaas.