Dié sportsoorte met transformasielat oor die vingers getik

Minister Nathi Mthethwa. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

“Sportverenigings moet transformasie ernstig opneem, want dit is iets wat nie onderhandelbaar is nie.”

Só het Nathi Mthethwa, die minister van sport, kuns en kultuur, gereageer op die Eminent Persons Group (EPG) se verslag rakende die transformasie van Suid-Afrikaanse sport vir 2018-’19.

Swem, hokkie en krieket is deur die minister uitgesonder omdat hulle onder meer óf nie die transformasieteikens bereik het nie, óf nie genoeg verteenwoordigende swart spelers en lede gehad het nie.

“As die minister van hierdie portefeulje sal ek Suid-Afrikaners faal en ons Grondwet oortree as ek versuim om nie teen oortreders op te tree nie,” het Mthethwa gesê.

Volgens die minister kan verenigings wat nie die teikens bereik nie, beboet word. Staatsfinansiering kan tydelik opgeskort word, terwyl die sportbeheerliggaam se magtiging om internasionale toernooie aan te bied, herroep kan word.

Mthethwa het bevind dat swem en hokkie nie die transformasieteikens bereik het nie. Hierdie twee sportverenigings sal nou in ’n voorlegging moet bontstaan om bogenoemde strafmaatreëls vry te spring.

Krieket Suid-Afrika (KSA) het weliswaar 70% van sy eie teikens bereik, maar Mthethwa meen dat daar nie genoeg verteenwoordigende swart lede in veral bestuursvlakposisies is nie.

Jacques Faul, die tydelike uitvoerende hoof wat noodgedwonge die kastaiings uit die vuur moes kom krap ná Thabang Moroe se skorsing, het in die media gesê dat ’n permanente wit kriekethoof waarskynlik nie in die huidige klimaat sal werk nie.

Elleck Nchabeleng, voorsitter van die staande komitee oor onderwys, tegnologie, sport en kuns en kultuur, het op sy beurt gesê dat Suid-Afrikaanse rugby en krieket van hul rassistiese etikette ontslae moet raak.

Siya Kolisi. Argieffoto.

Verskeie gekleurde spelers het onlangs na vore getree en stories gedeel van hoe hulle benadeel is. Siya Kolisi het aangevoer dat hy destyds nie tuis in die Springbokspan gevoel het nie omdat daar hoofsaaklik Afrikaans gepraat is, terwyl Makhaya Ntini gesê het dat hy eerder die eensaamheid van die spanbus wou vermy het.

Meer onlangs het Robin Peterson gesê dat hy die k-woord toegesnou is.

Volgens Nchabeleng is hierdie spelers se stories skrikwekkend en daar moet daadwerklik opgetree word.

“Dit is ’n verleentheid dat swart sportmense sulke stories het om te vertel. Daar is geen plek vir rassisme in Suid-Afrikaanse sport nie. Die indruk dat jong wit atlete ’n uitsonderingsomgewing in spanne skep deur gebruik te maak van Afrikaans of deur sosiale gedrag is ’n bron van kommer,” het hy gesê.

“Wit atlete het geen ander keuse as om te aanvaar dat swart atlete deel van Suid-Afrika se professionele sportlandskap is nie en andersom.”

Min. Mthethwa het met van die ontevrede krieketspelers byeengekom en sal hul klagtes opvolg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

Geagte Nathi Mthethwa, moet jy en jou regering nie dalk begin om die voorbeeld te stel nie? Wat is die ras demografie van die ANC se top bestuur? Swart 100%. Wat is die ras verhouding van die kabinet? Swart 99% Bruin 0.5% Indier 0.5%? Moet ek hoegenaamde verder gaan? Gaan kyk na die SOE.
Maar dan wil julle jul vingers indruk waar dit nie hoort nie, en ondersteun kliphard die BLM!!!

Nico ·

Wanneer gaan die blanke jong seuns en meisies besef skryf jou matriek en gaan oorsee as jy reken jy het ‘n goeie toekoms in sport. Jul geleenthede hier in rasistiese korrupte SA raak alhoe minder. Ek kon nie glo toe ek verneem ‘n paar van julle wat verledejaar besluit het om te gaan het so gou teruggekeer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.